Die hofverskyning van twee verdagtes wat in hegtenis geneem is ná ‘n Strand-bejaarde se dood is tot Donderdag 19 Februarie uitgestel.
Ryan Munnik (20) en Darren Stephanus (38) is Woensdag 21 Januarie deur Stellenbosch-polisie in hegtenis geneem nadat Pieter de Koker (77) op Saterdag 17 Januarie dood in die OnderPapegaaiberg-begraafplaas gevind is. De Koker, wat voorheen in Stellenbosch gewoon het, is naby sy seun se graf gevind.
De Koker het gereeld die graf besoek wanneer hy in die Eikestad was.
LEES OOK: Verdagtes in De Koker-moord verskyn in hof
Sy dogter en haar man het dié Saterdag na haar pa gaan soek nadat hy nie vir ‘n familiebraai opgedaag het nie. In hul soektog het hulle polisiebeamptes by die begraafplaas gesien. Toe hulle ondersoek ingestel het, is bevestig dat De Koker daar vermoor is.

Inwoners het in 2023 ‘n versoekskrif aan die Stellenbosch-munisipaliteit gerig oor die stukkende heining van die Papegaaiberg-natuurreservaat, die varkplaas in die reservaat, asook dat mense met honde in die reservaat jag. Die reservaat word ook deur voetgangers as ‘n deurweg tussen Khayamandi, die dorp en Onder-Papegaaiberg gebruik.
By navraag het die munisipaliteit toe gesê daar is samewerking met CapeNature, inwoners en rolspelers om veilig- heid by die reservaat te verseker.
LEES OOK: Veiligheid onder die loep na moord in begraafplaas
Die VF Plus het die afgelope naweek besoek by die begraafplaas aflê. In ‘n verklaring sê die Stellenbosse VF Plus die toestand van die begraafplaas is ‘n veiligheids- en omgewingsrisiko.
“Die VF Plus het in ‘n skrywe aan die munisipale bestuurder, Geraldine Mett- ler, daarop aangedring dat die betrokke gebied dringend skoongemaak, vullis verwyder en kwesbare infrastruktuur beveilig word en dat beslissend opgetree word teen onwettige plakkers en aktiwiteite.”
Die VF Plus betuig ook sy meegevoel aan De Koker se familie en sê die herstel van veiligheid in Onder-Papegaaiberg is ‘n prioriteit.





You must be logged in to post a comment.