Die De Zalse-huiseienaarsvereniging (HOA) in samewerking met Avril van Rheede van Eagle Towers SA het ’n suksesvolle gholfdag op 19 Mei gehou en die opbrengs van die dag aan Usiko Stellenbosch se naskoolprogram geskenk.
Die altesaam R55 000 wat die HOA op die dag ingesamel het, is Donderdag 23 Junie by die Weber Gedenkskool aan Usiko oorhandig.
“Die naskool het in 2018 reeds begin en is daarop gemik om laerskoolleerders van Weber Gedenk by te staan om huiswerkondersteuning sowel as ’n gebalanseerde maaltyd ná skool te ontvang. Die naskool skep ’n veilige hawe vir kinders en bied hulle die geleentheid om hul middae op ’n positiewe en prettige manier deur te bring,” het Arnold Okkers, ’n direkteur van Usiko, gesê.
“Tans is die program meer gestruktureerd waar STEM- en fisieke aktiwiteite ingesluit word met huiswerkondersteuning as die hooffokus.
“Die kinders word ook daagliks van ’n maaltyd voorsien,” het hy bygevoeg.
Usiko Stellenbosch wil graag al die borge vir die ongelooflike bydrae tot die naskoolprogram bedank.