Die provinsiale Departement van Landbou sal meer as 2 500 huishoudings in die 2024-’25-boekjaar ondersteun om hul eie voedsel te produseer.
Die ondersteuning wissel van kundige raad, grondontleding, produksie-insette en verwante infrastruktuur soos besproeiing.
Die doel van die program is om voedselsekerheid te versterk en die ondersteuning van die departement sal verseker dat geskikte gewasse geplant word en dat alle nodige infrastruktuur, soos net- en besproeiingstelsels wat herwinde water benut, verskaf word.
Altesaam R16,7 miljoen word aan grondvlak-voedselsekerheid-ingrypings toegewys, is vandeesweek tydens die tertafellegging van die departement se begroting in die Wes-Kaapse Provinsiale Parlement onthul.
Die vrugte en groente wat in hierdie voedseltuine geproduseer word, word dikwels in gemeenskapssopkombuise, kleuterskole en skole gebruik en bereik behoeftiges.
Die voordele van hierdie tuine strek veel verder as die verskaffing van gesonde en vars groente.
Suksesvolle tuinmaak is terapeuties van aard, en verbeter selfwaarde. Sedert die begin van die 2020-21-boekjaar het die departement meer as 16 000 sulke voedseltuine ondersteun.
Andricus van der Westhuizen, die Wes-Kaapse woordvoerder oor landbou, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het gesê: “Met die lewenskoste wat vir die meeste verbruikers ooglopend hoë vlakke bereik, het die Wes-Kaapse regering ’n innoverende benadering gevind om honger in ons gemeenskappe aan te durf.
Deur te help om gemeenskaps- en huishoudelike voedseltuine te begin, het die departement ’n praktiese en volhoubare manier gevind om voedselsekerheid in die provinsie ’n hupstoot te gee.
Die departement het bevestig hy sal met hierdie suksesvolle program voortgaan, en ek moedig inwoners van al ons gemeenskappe oor die provinsie heen aan om vir voedseltuinondersteuning by hul naaste streekdepartement van landbou-kantoor aansoek te doen.”
Om aansoek te doen:
Onder die huishoudelike-tuine-program kwalifiseer huishoudings met ’n huishoudelike inkomste minder as R4 500 per maand en wat ’n voedseltuin wil begin, vir bystand.
Aansoeke word op ’n deurlopende basis deur die jaar ontvang.
Kwalifiserende huishoudings sal opleiding vir groentetuinmaak ontvang sowel as hoenderproduksie-beginpakkies/-stelle en opleiding.
Wie kwalifiseer vir die program?
1. Huishoudings met ’n gesamentlike inkomste onder R4 500 per maand.
2. Bewys van vorige kweekervaring (kos of enige plante).
3. Toegang tot grond (minimum van 2×3 meter OF ruimte vir ’n vertikale tuin).
4. Toegang tot waterbronne (dak vir oes of putpunt of gryswatergebruik).
5. ’n Huishoudingslid beskikbaar om opleiding/demonstrasies by te woon.
Wat het ek nodig om aansoek te doen?
1. Aansoekvorm
2. Aansoeker se afskrif van Suid-Afrikaanse ID
3. Geldige adres met ’n huisnommer
Gemeenskaps-/skool-voedsel-sekuriteit-tuine
Die Departement van Landbou gee ondersteuning aan gemeenskaps/skool-voedseltuine wat tans bedryf word, of aan kwalifiserende mense wat hul eie kostuine wil begin.
Die aansoeke word deur die jaar ontvang. Aansoeke kan ingedien word by die naaste distrikskantoor van die Departement van Landbou.
Wat sluit dit in?
Die ondersteuning wat gegee word, sal wees in die vorm van saailinge, toerusting, tuingereedskap ens. (nie geld nie) en kan enigiets insluit (onderhewig aan die behoefte en begroting- beskikbaarheid).
Wie kwalifiseer vir die program?
1. Ongeregistreerde gemeenskapsgroepe met ’n groepnaam en leier.
2. Groepe wat ’n minimum van drie lede het.
3. Grond – eie grond OF drie-jaar-huurkontrak indien daar op staatseiendom geboer word; of grond OF vyf-jaar-huurkontrak indien daar op private grond geboer word OF ’n toestemmingsbrief van ’n skool of kliniek.
4. Toegang tot nie-munisipale water (bv. dak om water van te oes, boorgat, ’n putpunt, dam, rivier of gryswaterstelsel).
5. Vorige ondervinding van boerdery.
6. Beskikbaar om die opleiding by te woon (minimum twee dae).
NB: Aansoekers moet aan al ses bogenoemde kriteria voldoen om vir finansiering in aanmerking te kom.
Vir verdere inligting, kontak asseblief jou naaste voorligtingsbeampte in jou distriksgebied:
– Kaapse Wynland (Stellenbosch) – 021 808 7051
– Swartland (Moorreesburg) – 022 433 8901