Wim Truter sluit eersdaags by Meerlust-wynlandgoed aan as hoofwynmaker/bestuurder.
Hy word die derde wynmaker op hierdie beroemde Stellenbosch-landgoed wat in 1693 gestig is en sedert 1756 deur die Myburgh-familie besit word.
Sedert die vrystelling van die eerste wyne in 1975 het Meerlust nog net twee wynmakers gehad: Giorgio Dalla Cia (tot 2004) en Chris Williams vanaf 2004.Truter sal amptelik op 1 Mei 2020 pos by Meerlust inneem. Die 2020-oesjaar sal hanteer word deur die wynmaker Altus Treurnicht, met Williams en Truter wat bystand sal verleen indien nodig.
Truter het ’n BScAgric-graad in chemie, wyn- en wingerdkunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, waarna hy die internasionale MSc Vintage-kwalifikasie in wingerd-, wyn- en terroirbestuur behaal het wat studietermyne aan die Ecole Superieur d’Agriculture, Angers, Frankryk, die Universita Cattolica del Sacro Cuore, Piacenza, Italië en die Universitat Politecnica de Valencia in Valencia, Spanje ingesluit het.
Sy mees onlangse posisie was dié van hoofwynmaker by die KWV, en Truter het ook by verskeie wynkelders in Europa, Australië en Amerika gewerk insluitend Jordan Vineyard & Winery in Sonoma en Tintara Hardy’s in McLaren Vale, Australië.
Hannes Myburgh, eienaar van Meerlust, sê dat Truter se reputasie en werkservaring ’n bate vir die besigheid sal wees op verskeie fronte. “Sy akademiese uitnemendheid word aangevul deur uitgebreide werkservaring – plaaslik en internasionaal,” sê Myburgh.
Hy sê verder: “Wim se voor die hand liggende kennis in die veld van wingerdkunde en wynmaak word aangevul deur deeglike ervaring in personeelbestuur en logistiek, en die nouliks betrokke operasionele benadering wat nodig is om die daaglikse bedrywighede van ’n kwaliteit gefokusde kelder te bestuur. Ek en die res van die Meerlust-span sien daarna uit om Wim te verwelkom op ’n wynplaas waar ons net so groot klem plaas op mense as ons wingerd en wyne.”
Truter sê dat hy daarna uitsien om met ’n premium wynhandelsmerk van Meerlust se statuur en nalatenskap te werk.
“Meerlust is ’n ultra premium handelsmerk – in terme van beide wynkwaliteit en die stamboom waarop dit voortbou – en ek is gretig om ’n rol te speel in beide produksie asook die strategie wat benodig word om te verseker dat Meerlust sy posisie aan die toppunt van die Suid-Afrikaanse wynaanbieding volhou en versterk.”