Anri Grobbelaar se kriekettalent word raakgesien.
Dié graad 9-leerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof, is in die SA Skole o.19-krieketspan vir meisies opgeneem ná afloop van die nasionale CSA-krieketweek wat tussen 10 en 14 Desember 2017 in Port Elizabeth gehou is.
Wat Anri se opname in hierdie SA-span so uitsonderlik maak, is dat sy maar net 14 jaar oud is.
Anri se veelsydige kriekettalent is reeds in 2014 deur die WP-skolekeurders opgemerk toe sy as bouler op 11-jarige ouderdom die eerste keer vir die WP o.19-krieketspan vir meisies gekies is.
In 2015 en 2016 het sy die span as kolwer en paaltjiewagter gehaal en in die span in 2017 – steeds as die jongste speler in die WP-o.19-groep – aangevoer.
WP het in die afgelope CSA-krieketweek in Port Elizabeth al sewe sy wedstryde teen sterk mededinging van die ander provinsies gewen.
Anri was een van die voorste lopiemakers in die toernooi.
Haar beurte van 83 lopies teen die OP en 57 teen die sterk boulaanval van Gauteng het verseker dat die SA-keurders verby haar jeug gekyk en haar as kolwer en paaltjiewagter in die SA span opgeneem het.
Benewens haar bedrewenheid met ’n krieketkolf en handskoene agter die paaltjies het dié Bloemhoffer in 2017 ook provinsiale kleure in hokkie en atletiek verwerf.