Een van die skouspelagtigste bome op Stellenbosch staan in ’n baie toeganklike parkie, maar is aan meeste mense onbekend.
Dis die reuse appelmirt (Eng.: Apple myrtle), wetenskaplik bekend as Angophora costata, in die binnetuin van die historiese huis Voorgelegen by Dorpstraat 116, wat dateer uit die jaar 1798.
Die binnetuin is nou ’n goed versorgde munisipale park en kan maklik deur ’n oop hek by die parkeerterrein agter Checkers asook van die speelgoedmuseum in Markstraat af bereik word.
Die appelmirt is ’n sierlike boom uit die woude van Oos-Australië en word gekenmerk deur sy breë stam, gladde bas met ’n ligpers kleur en wydverspreide, krom takke met smal, langwerpige blare.
Dié boom kan tot 20 meter hoog word en dra in die lente klossies roomkleurige blomme.
Die soort is nie verwant aan appelbome nie, maar wel naverwant aan die bloekom en kry sy volksnaam waarskynlik van sy vorm wat met dié van ’n gewone appelboom ooreenstem.
Aan die voete, oftewel wortels, van die appelmirt in die Voorgelegen-tuin staan ook ’n reuse kanferboom (Cinnamomum camphora), een van twee in die park. Dit kan maklik van die appelmirt aan sy growwe bas en die reuk van kanfer as die blare gekneus word, onderskei word.
Kanferbome kom oorspronklik uit China en Japan, en het oor die wêreld gewild geword – ook in Stellenbosch – vanweë hulle mooi voorkoms, maar ook die medisinale waarde van die kanferolie teen koors en griep in sy bas en hout.
Dit het plaaslik egter die gevolg dat die bas van die bome soms onoordeelkundig gestroop word, wat die boom kan laat vrek.
Die Stellenbosch-munisipaliteit probeer dus om sy kanferbome te beskerm deur hul stamme wit te verf.
Kanferbome word by ons en in ander lande as indringerplante geklassifiseer omdat voëls die voedsame bessies eet en die sade versprei, waarna die bome opslaan waar hulle nie hoort nie.
Naby die tuinhek staan ’n eensame, maar pragtige begraafplaas-sipres (Cupressus sempervirens), ewe fier en regop.
In die Christelike, Moslem en Joodse tradisie word hulle by begraafplase geplant as ’n simbool van rou en hartseer, maar miskien ook as simbool van ’n kers, of van die onsterflikheid van die siel. Die spesienaam sempervirens beteken immers immergroen.
As jy dus weer ’n slag by Checkers parkeer, vergeet eers van die winkel en slaan ’n teenoorgestelde koers in na die Voorgelegen-binnetuin met sy uitsonderlik mooi bome. Voed dus eers jou siel voordat jy by Checkers aan jou maag dink.