Die apteekdienste by die primêre gesondheidsorg in Stellenbosch het vir die derde agtereenvolgende keer ’n A-gradering van die Suid-Afrikaanse Aptekersraad (SAA) ontvang.
Esna Wessels, die toesighouer van die apteekdienste, sê sy hoop die topgradering is ’n bewys vir die gemeenskap van die “hart waarmee die personeel hulle (die gemeenskap) dien”.
Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement sê hy is trots op sy span wat topgradering ontvang het. “Ek is baie trots op die prestasie van die apteekdienste. Volhoubare planne word gedurig gemaak om dienste te verbeter. Hierdie is ’n wonderlike span,” sê sr. Denise Johnson van die Wes-Kaapse regeringsgesondheid en die bestuurder van primêre gesondheidsdienste in die Stellenbosch-omgewing.
Wessels en haar span is by die Cloetesville-gemeenskapsdagsentrum gestasioneer, van waar hulle medikasie bestel en aan klinieke in die Stellenbosch-gebied beskikbaar stel. Van hier af gaan hulle uit om die apteekassistente, wat permanent by klinieke is, by te staan.
Die span se werk is omvattend, en so ook die aspekte wat in ag geneem word tydens ’n inspeksie van die SAA. “Dit is ’n baie streng proses. Alles word aan bewyse gemeet. Jy moet elke dag alles insit en alles gereed hê, want die inspeksie kan enige dag plaasvind,” sê Wessels.
Tydens die inspeksie word nie net gekyk na prosesse soos die bestel, ontvang, korrekte berging en hantering van medikasie nie, maar ook na hoe apteekpersoneel deurlopend opgelei word, hoe hulle op hoogte bly van die jongste beleide, en hul interaksie met pasiënte. Inisiatiewe om die pasiënt se ervaring te verbeter, word ook in ag geneem, en so ook stappe wat gedoen word om medikasie se gehalte te beskerm tot die oomblik wat die pasiënt dit neem.
“’n Swak prestasie tydens ’n inspeksie kan lei tot meer gereelde inspeksies of die sluiting van die apteek, wat beteken die Cloetesville-gemeenskapsdagsentrum en al die apteke in die Stellenbosch-omgewing sal geraak word.”
Die inspekteur het egter Wessels se span as “klein, maar dinamies” beskryf. Hy was beïndruk met al die stappe om gehalte te verseker en het gesê “hierdie span het modelle wat ek aan ander sal voorhou as voorbeelde van goeie praktyke”.
Wessels sê die sleutel tot hul prestasie lê in die welstand van hul personeel. “Ons praat voortdurend oor die belangrikheid daarvan om die regte medikasie op die regte tyd aan die regte pasiënt te gee, want elke pasiënt verteenwoordig hul eie ma, pa en geliefde. Die span roteer daagliks in die klinieke in Stellenbosch, wat goeie en deurlopende kommunikasie tussen die spanlede verg.
“Die personeel by die klinieke is ook vir ons belangrik, want ons moet nou saamwerk om die stelsel te laat werk tot die punt waar die baba byvoorbeeld sy inenting kry. Die apteekspanne is dikwels die laaste kontakpunt wat die pasiënt met die fasiliteit het, dus doen ons alles wat ons kan om seker te maak dat dit ’n positiewe ervaring vir die pasiënt is.”
Van die inisiatiewe om pasiënte se ervaring te verbeter, is deur in sommige fasiliteite ’n trollie met medikasie toe te ken aan verpleegkundiges wat voorskrifte kan uitreik. Die verpleegkundige kan dan dadelik, nadat ’n voorskrif geskryf is, die medikasie vir die pasiënt gee – en die pasiënt kan huis toe gaan.
Die span verpak en reik ook medikasie uit aan tot agt instansies in die Stellenbosch-omgewing, sodat hul inwoners nie nodig het om dit af te haal nie. Minder mense hoef dus na klinieke te gaan. Apteekdienspersoneel deel ook waarnemings met bedryfsbestuurders, sodat byvoorbeeld ’n opeenhoping van pasiënte voorkom word en gesondheidswerkers gereelde indiensopleiding kry oor die doeltreffendste hantering van medikasie.