Die topgehalte wyne waarvan druiwe uit spesifieke terreine kom, is verlede week by die 19de jaarlikse SA Terroir-wyntoekennings bekroon, met die SA Terroir-trofeë wat aan wynprodusente uit vier verskillende terreine toegeken is.
Boonop het al die nasionale wenwyne van al die verskillende wynkultivars en -style uit meer as 18 terreine in die wynland gekom, soos Woensdag 14 Augustus by ’n spoggeleentheid by die Lanzerac Hotel en Spa in Stellenbosch aangekondig.
Die top wyn uit al die inskrywings kom van die Springfontein-landgoed in die Springfontein Rim-wyk naby Stanford, naamlik die Springfontein Single Vineyard Jonathan’s Ridge Pinotage 2018 wat die 2024 SA Terroir-trofee vir die top wyn verower het.
Pinotage is ’n eg Suid-Afrikaanse kultivar wat in verskeie wynterreine floreer. Hierdie kultivar se ontstaan 100 jaar gelede word juis volgende jaar gevier.
Beide die SA Terroir-trofee vir die top landgoed en die top terroir produsent is vanjaar aan die Lourensford-landgoed in Somerset-Wes toegeken. Dié landgoed het die nasionale wenwyne vir Cap Classique, Merlot en Petit Sirah ingeskryf, wat ’n groot rol in die aanwysing van die twee top trofeë gespeel het.
Enkelkultivar-wyne vorm ’n belangrike deel van die kompetisie, met die kleiner volume wyne waarvan al die druiwe uit een wingerd kom. Die 2024 SA Terroir-trofee vir die top enkelwingerdwyn is deur die La Vierge Apogée Pinot Noir 2022 verower. La Vierge is ’n privaatkelder in die Upper Hemel-en-Aarde wyk van die Walker Bay-distrik naby Hermanus.
Die 2024 SA Terroir-trofee vir die top-gebied is toegeken aan die Theewater-wyk in die Overberg distrik, te danke aan Eerste Hoop Wynkelder naby Villiersdorp. Hierdie kelder het die nasionale wenners vir Chardonnay en Rooi Versnit ingeskryf, terwyl vyf van hul ander wyne ook as die top wyne in die Overberg-distrik aangewys is.
Nuwe wyke in groot distrikte het vanjaar weer na vore getree, insluitend die Agter-Paarl-wyk wat onlangs as eiesoortige wynterrein in die Paarl-distrik deur die Wyn-en-Spiritusraad afgebaken is. Die nasionale wenner van Chenin Blanc kom uit dié wyk, naamlik die Windmeul Chenin Blanc Reserve 2022.
’n Skaars Spaanse witwyn-kultivar, Albariño, het vanjaar vir die eerste keer in hierdie gesogte kompetisie met hoë punte uitgestaan om as ’n nasionale wenner van hierdie kultivar aangewys te word. Dit is die Bellingham The Bernard Series Single Vineyard Albariño 2023.
Die Erfenis-wingerde – wat wingerde van 35 jaar en ouer behels – het drie wenners opgelewer. Die beste witwyn was die 2022 Koelenhof Stellenbosch 1679 Bushvine Chenin Blanc, terwyl die beste rooiwyn as die 2023 Piekenierskloof Carel van Zyl Old Vine Grenache Noir aangewys is. ’n “Ou wingerd” se edellaatoeswyn is ook vanjaar vir die eerste keer as ’n wenner aangewys, naamlik die 2024 Neethlingshof Short Story Collection Maria NLH.
Uit al die nasionale wenners wat aan die verskillende kultivars en wynstyle toegeken is, was 12 landgoedwyne en nege enkelwingerdwyne.
Slegs wyne wat by die Wyn-en-Spiritusraad gesertifiseer is as wyn van oorsprong van ’n spesifieke wyk, ’n distrik wat nie in meer as een wyk verdeel is nie, ’n landgoed-geproduseerde wyn en enkelwingerdwyn mag aan die terroir-kompetisie deelneem – wat sy 20ste bestaan volgende jaar vier.
Altesaam 36 wyne van al die verskillende kultivars en style het met die hoogste punte as nasionale wenners uitgeblink.
- Bellingham The Bernard Series Motherblock Single Vineyard Albariño 2023;
- Blake’s Single Vineyard Malbec 2023;
- Bon Courage André’s Fame Colombard 2024;
- Boplaas Colheita Cape Tawny 2007;
- Cederberg Cabernet Sauvignon 2021;
- De Krans Touriga Naçional 2023;
- Eerste Hoop Chardonnay (gehout) 2023;
- Eerste Hoop Lady Brigitte 2022;
- Flagstone Treaty Tree Sauvignon Blanc/Sémillon (gehout) 2023;
- Ghost Corner David Nieuwoudt Sémillon (gehout) 2023;
- Jakkalsvlei Pinotage Rosé 2024;
- Koelenhof Stellenbosch 1679 Bushvine Chenin Blanc 2022;
- Kranskop Single Vineyard Tannat 2022;
- La Vierge Apogée Pinot Noir 2022;
- Le Bonheur Petit Verdot Reserve 2022;
- Lourensford Cuvée Brut Zero 124 2011;
- Lourensford Kleipot Petit Sirah 2020;
- Lourensford Limited Release Merlot 2022;
- Mariëtte Pinot Blanc (gehout) 2022;
- Nabygelegen Scaramanga Verdelho 2023;
- Neethlingshof Estate Gewürztraminer 2024;
- Neethlingshof Short Story Collection Maria NLH 2024;
- Nuy White Muscadel 2013;
- Piekenierskloof Carel van Zyl Old Vine Grenache Noir 2023;
- Rietvallei JMB Cabernet Franc 2019;
- Saronsberg Shiraz 2021;
- Saronsberg Viognier (gehout) 2022;
- Slanghoek Private Selection Crème de Chenin 2023;
- Springfontein Single Vineyard Jonathan’s Ridge Pinotage 2018;
- Springfontein Terroir Selection Chenel (gehout) 2022;
- Villa Esposto Muscat D’Alexandrie Straw Wine 2023;
- Villion Grenache Noir 2022;
- Vrede en Lust Early Mist Riesling 2023;
- Welbedacht Bakleiblok Cinsault 2023;
- Windmeul Chenin Blanc Reserve (gehout) 2022; en
- Zoetendal Limited Release Sauvignon Blanc (gehout) 2023.
Benewens die trofeë en nasionale wenwyne, word die top-wyne in die verskillende gebiede ook aangewys.
Die SA Terroir-wyntoekennings word aangebied in samewerking met die finansiële vennote SA Litho en WinField United SA, met die OntbytSAKE-program op KykNET as mediavennoot.
Vanjaar se beoordelaars was Conrad Louw, gereelde lektor by die Kaapse Wynakademie en Kaapse Wynmeester (voorsitter); Elunda Basson, keldermeester van Steenberg; Brendan Butler (wynmaker en bestuurder by Meinert Wines en Kaapse Wynmeester); Anton Swarts, senior wynmaker by Spier en Kaapse Wynmeester, en Janine van Zyl, ‘n gekwalifiseerde sommelier en tans besig met haar Kaapse Wynmeester-studies.
- Die volledige uitslae is aanlyn by www.terroirwineawards.co.za beskikbaar.