Die boomsoort met die meeste kampioene in Stellenbosch is die Rooibloekom (Eucalyptus camaldulensis).Foto: Jan Giliomee


Stellenbosch het baie bloekombome, soos die meeste van ons dorpe en plase.

Hulle is veral vroeër baie aangeplant omdat hulle goeie brandhout en skaduwee verskaf. ’n Paar van die oues troon uit bo die omringende plantegroei en van hulle is verklaar as kampioenbome ingevolge die Nasionale Boswet van 1998, waardeur hulle spesiaal beskerm word.

Die boomsoort met die meeste kampioene in Stellenbosch is die Rooibloekom (Eucalyptus camaldulensis). Dit kom van Australië waar dit die bloekomsoort met die wydste verspreiding is, maar wat veral langs rivieroewers gevind word, vandaar die Engelse volksnaam river redgum. Ongelukkig het dit by ons en baie ander lande ’n indringerplant geword en veral as gevolg van die digte stande wat op plekke langs riviere soos die Bergrivier aangetref is, word dit as ’n indringerplant beskou.

Die twee oudste rooibloekomkampioene is in 1880 geplant en staan op die Bergzicht- markplein, naby die kruising van Merriman- en Birdstraat, en op die erfgrens van Jonkershoekweg 60 onderskeidelik. Laasgenoemde is bekend as die Ruth Steer-boom, genoem na die vrou wat dit beskerm het. Albei is sowat 34 meter hoog. Nog twee reuse-kampioenbome, wat ’n paar jaar later geplant is, staan by die universiteitskoshuis Wilgenhof in Victoriastraat en op die Infruitec- terrein langs die pad wat na Helshoogte lei. Albei is waarskynlik ook in die 1880’s geplant.

In 1886 moes verlof van die munisipaliteit verkry word om iets anders as ’n akkerboom op die sypaadjies te plant en so het ’n Rooibloekom op die hoek van Victoria- en Andringastraat sy plek gekry. Vandag is dit feitlik net so groot soos Wilgenhof se kampioenboom daar naby.

Die ander soort bloekom op Stellenbosch waarvan hier ’n groepie kamioenbome staan, is Eucalyptus citriodora (Corymbia citriodora volgens sommige plantkundiges), in Engels bekend as die Lemon-scented Gum. Dis afkomstig van Noord-oos Australië en word gekenmerk deur hul wit stamme. Drie bome versier die terrein van Paul Roos Gimnasium se koshuise teenaan die Suidwalpad langs die Eersterivier. Die langste een is sowat 40 meter hoog.

Nog ’n bloekomsoort waarvan daar heelwat in Stellenbosch se strate en tuine te sien is, is die Blombloekom (Eucalyptus ficifolia), wat veral vir sy mooi blomme aangeplant word. ’n Skouspelagtige voorbeeld van hierdie soort is in die Botaniese Tuin van die Universiteit Stellenbosch te sien. Dis ’n reuseboom en is reeds tussen 1925 en 1930 deur dr. Hans Herre, eerste kurator van die Botaniese Tuin, geplant. En wat meer is, daar is altyd iets te ete en te drinke onder hierdie besondere boom.

You need to be Logged In to leave a comment.