Dis moeilik om Stellenbosch sonder bome voor te stel, maar toe die dorp in 1679 gestig is, was hier feitlik geen bome nie.
Wel, ’n paar langs die Eersterivier, soos without en sekere soorte geelhout. Weg van die rivier het dit gelyk soos die natuurlike gedeelte van die Jan Marais-natuurreservaat daar uitsien: fynbos met struike en hier-en-daar kleinerige bome soos die sandolien (Dodonea viscosa var. angustifolia) en olienhout. Hulle is in elk geval kort gehou deur brande wat deur weerlig en die Khoisan veroorsaak is.
Olienhout (Olea africana) toon baie ooreenkomste met die olyf, wat afkomstig is uit die Middellandse See-gebied, soos die wetenskaplike naam Olea europaea dan ook aandui. Net die swart vruggies van die olien is baie kleiner as die olywe wat ons vandag ken. Vir baie jare is hulle as twee subspesies van dieselfde soort beskou.
Olienhoutbome kom van die Kaap tot in tropiese Afrika voor. In Stellenbosch is daar talle langs die Eersterivier en in die Jan Marais-natuurreservaat te sien. Hulle word gewoonlik net so 8 tot 10 meter hoog, maar op dr. Joep Maree se kleinhoewe net buite die dorp staan ’n reusevoorbeeld, seker een van die grootste in die land. Hierdie boom kom ook in huistuine voor. Met sy mooi ronde kroon is dit geskik as ’n skaduboom, weliswaar stadiggroeiend. Die klein bruin tot swart vruggies wat dit dra, is eetbaar, maar smaak nie baie lekker nie. Voëls hou egter baie daarvan en versprei die pitte, met die gevolg dat jong plantjies opslaan waar hulle nie welkom is nie en uitgetrek word. Hul lewe kan egter gered word deur van hulle ’n mooi bonsai te maak, want hulle is baie geskik daarvoor.
Van bonsai gepraat: ek het eenkeer tong in die kies vir ds. Gerjo van der Merwe, wat ’n groot bonsai-liefhebber was, gesê: “Dis darem ’n verskriklike ding wat jy doen om ’n boom tot so ’n klein potjie te beperk.” Sy gevatte antwoord was: “As predikant weet ek nooit waar ek gaan beland nie. Ek is lief vir my bome, so ek vat hulle saam waar ek ook al gaan.”
Olienhoutbome is baie gehard met growwe bas en dikwels verwronge stamme wat die bome karakter gee. Die hout is duursaam, met ’n goudbruin kleur. Pragtige meubels kan daarvan gemaak word.