Die stryd om die Vlakte-erfenisbeker is die afgelope Saterdag (5 Oktober) beslis en die stryd tussen Cloetesville en Idasvallei het in Cloetesville se guns geswaai.
Sportspanne van dié twee Stellenbosch-buurte het by die Cloetesville-sportterrein byeengekom en in alles van netbal tot rugby meegeding om koning te kraai.
Die Vlakte-erfenisbeker is deur Herotel, tesame met RH Events en die Cloetesville-sportraad, aangebied.
Volgens die organiseerders was dit ’n geskiedkundige dag waar die gemeenskappe en inwoners van alle sektore bymekaar gekom het om die “Vlakte” se storie, as deel van Stellenbosch se geskiedenis, lewend te hou.
Ds. Reggie Nel van die Universiteit Stellenbosch se departement teologie en Stellenbosch se onderburgemeester, Jeremy Fasser, het die verwelkomings behartig.
Morne Laubscher, areabestuurder van Herotel Stellenbosch, het die feesvieringe ingelui. Hy sê dié sportdag is ’n geleentheid vir die onderneming om in die plaaslike jeug terug te ploeg.
Sokker, rugby en netbal is gespeel nadat die sportdag met ’n motorfietsrit, trompoppies, die loslaat van duiwe, ’n spirituele dans en ’n karate-demonstrasie begin is. Stalletjies het omgesien na genoeg eetgoed terwyl ’n springkasteel kinders ure lank besig gehou het.
Marlon Davidse, ’n organiseerder, sê die gees van die dag was iets besonders en die ondersteuning was baie goed.
Aan die einde van die dag se sport en feesvieringe het Cloetesville die groot trofee naelskraaps gewen. Die Dal het ná sy oorwinning die spogregte tot volgende jaar wanneer die Vlakte-erfenisbeker-kompetisie in Vlei aangebied sal word.
“Let us play together to stay together,” vra die organiseerders.