Die Heuwels Fantasties reik nuwe enkelsnit uit

Die Heuwels Fantasties. Sheldon Yoko, Fred den Hartog, Pierre Greeff en Hunter Kennedy. Dit is tien jaar later sedert Die Heuwels Fantasties (DHF) se self-getitelde debuut album hulle so te […]


heuwels

Die Heuwels Fantasties. Sheldon Yoko, Fred den Hartog, Pierre Greeff en Hunter Kennedy.

Dit is tien jaar later sedert Die Heuwels Fantasties (DHF) se self-getitelde debuut album hulle so te sê oornag as een van die land se gewildste musiekgroepe gevestig het. Vandaar was daar vele radiotreffers, toekennings en duisende aanhangers.

Alhoewel Die Heuwels twee jaar laas ’n nuwe album uitgereik het, is hul liedjies en videos deel van die daaglike SA musiek-kultuur. ’n Verrassing vit DHF was dat die vierde enkelsnit “Niks en Nêrens” vanaf die 2017 album getiteld “Okay!”, omtrent ’n jaar gelede ’n groot treffer was. 

Pierre Greeff sê hulle is effens uit die veld geslaan deur hoe goed die liedjie gedoen het: “Dis ’n great gevoel wanneer so iets insink en ons besef dat ons liedjies mense raak.”

Intussen het hulle ’n ateljee oopgemaak met Fred den Hartog agter die stuur. Oor hoe dinge nou uitrol, sê Hunter Kennedy: “Ek dink ons het bietjie verveeld geraak en gevoel dis tyd vir nuwe musiek. Die hele band was ’n rukkie terug saam vir ’n week in ’n windgat huis in Yzerfontein. Dit help altyd om weg te kom om die kreatiewe klier aan die gang te kry. Ons was keen om classic songs te skryf. Wat dit ookal beteken. Die liedjie “Jy Stel my Teleur” het nogal vinnig gebeur. Dit voel asof die kanale na bo oop was daai dag en dis wat deurgekom het. Hy was eerste klaar geskryf en kom nou eerste uit. Te nagedagte is dit vir my ’n interessante tema. 

“Dit het tong in die kies begin, maar so geknoop dat dit eintlik ’n openbaring geraak het vir ’n moeilik-om-neer-te-pen introspektiewe gedagtegang. Van iets wat my vrou gereeld vir my sê tot die eerste stap na self-vergifnis. Teleurstelling is iets wat ons op ’n daaglikse basis konfronteer. Daar is so baie dinge wat teleurstellend kan wees. Ons sien nie soos dit is nie, maar soos ons is.”

Jy Stel my Teleur” is die eerste enkelsnit vanaf ’n vollengte album wat eersdaags uitgereik word. Die album is by Sunset Recording Studios in Stellenbosch opgeneem. Jürgen von Wechmar was die ingenieur en het ook “Jy Stel my Teleur” vermeng. Greeff sê: “Dit was heerlik om ons nuwe musiek te gaan opneem tussen die berge. Sunset is by verre ons favourite studio in die wêreld en Jürgen is die beste.”

Wat hierdie liedjie anders maak as al die ander musiek wat Die Heuwels voorheen uitgereik het, is dat Hunter en Fred elk van die verse en Pierre die koor-gedeeltes in “Jy Stel my Teleur” sing. Greeff verduidelik: “Dit was eintlik maar ’n organiese proses. Ons moes wel vir Fred oortuig. Met betrekking tot die introspektiewe aard van die liedjie voel dit reg soos ons dit opgeneem het – asof ons met mekaar praat deur elkeen iets te sing.”

Die video van “Jy Stel my Teleur” is ’n samestelling van beelde wat verfilm is by Sunset Recording Studios tydens die opnames, asook insetsels van Die Heuwels se optrede by Liefde by die Dam in Johannesburg in Augustus vanjaar.

“Ons het ’n goeie regisseursvriend, Hardus van Deventer, afgevlieg om die video te kom skiet. Saam met die fotograaf André Badenhorst, was hulle so te sê flies on the wall tydens ons tyd in die studio” sê Greeff. “Ons is baie tevrede met die video. Dit is presies wat ons wou gehad het in terme van die gevoel van die song.”

Die Heuwels Fantasties tree op 16 November by die Liefde by die Dam-konsert op Meerendal-wynlandgoed in Durbanville op. 

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.