Die natuur ‘moet herskep word’

“Daar moet ’n plan kom op Stellenbosch vir verhoogde biodiversiteit. Klimaatsverandering en gierigheid sonder perke is die rede vir ons verswakte biodiversiteit.”.

Die bekende ekoloog Dave Pepler.Foto:

Credit: SYSTEM

“Daar moet ’n plan kom op Stellenbosch vir verhoogde biodiversiteit. Klimaatsverandering en gierigheid sonder perke is die rede vir ons verswakte biodiversiteit.”

Só het die bekende plaaslike ekoloog, Dave Pepler, vandeesweek op die jaarvergadering van die Stellenbosch Belangegroep gesê. Die vergadering is op Maandag 29 Mei gehou.

“Ons moet ophou om gate in ’n dyk toe te druk en moet ’n oorkoepelende plan saamstel om die dorp se biodiversiteit te verhoog. Stellenbosch is deurkruis met riviere, en hierdie riviere moet gebruik word as koppelings sodat diere en organismes kan beweeg. Ongelukkig is een van hierdie riviere, die Plankenbrugrivier, se ecoli-besoedeling so hoog dat dit van die skaal af is. Met die Eersterivier gaan dit ook nie so goed nie. Toe ek in 1971 langs die Eersterivier kom woon het, kon ek ’n forel of twee gaan vang vir my gaste se aandete. Dis nou ondenkbaar,” het Pepler gesê.

“Die paadjies langs die Eersterivier is te netjies. Omgevalle bome word afgekap en weggery. Waar moet die uile nou hul neste maak? ’n Hidroloog moet kom raad gee oor hoe die Eersterivier bestuur moet word – nie ’n arbeider met ’n kruiwa nie.

“Landsburgers met kundigheid moet die stem dik maak en hul hulp aan die munisipaliteit bied. Ons betaal belasting en is geregtig op ’n gesonde omgewing. Wil die raad nie die raad en kundigheid van inwoners aanvaar nie? Moet burgers die raad uitstem?”

Volgens Pepler moet natuur-herskepping (“rewilding” ) in Stellenbosch plaasvind. “Die afgelope tyd het natuurherskepping in die helfte van Londen se parke plaasgevind met ’n tsoenami van lewe as die gevolg. Daar is wolke skoenlappers en die voëls is terug. Die Braak en ander ‘eilande’ moet lewende kerns word, wat insekte en voëls lok. Plekke soos die Jannie Marais-plein op die kampus is saai gebiede wat met inheemse wilde plante beplant moet word.

“Baie van ons tuine in die dorp lyk dieselfde. Lyste van plante, wat insekte en voëls lok, moet beskikbaar gestel word, en kort voor lank sal die eilande van biodiversiteit ’n vasteland word. Groentetuine kan op plekke soos die dak van die ingenieursfakulteite aangelê word, en honderde mense kan daardeur gevoed word.

“Ons moet óf droom van ’n nuwe toekoms, óf wegloop. Daardie droom moet ’n oorhoofse visie en plan vir Stellenbosch insluit,” het Pepler afgesluit.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.