Die palm nie ’n boom

Palmbome is nie eintlik bome in die gewone sin van die woord nie, maar plante met veselagtige stamme in plaas van hout wat soos bome vertoon.


Palmbome is nie eintlik bome in die gewone sin van die woord nie, maar plante met veselagtige stamme in plaas van hout wat soos bome vertoon.

In Stellenbosch is een soort wat besonder hoog uitstaan, naamlik die Meksikaanse waaierpalm of garingpalm (Washingtonia robusta – die eerste deel van die wetenskaplike naam vereer die eerste president van die VSA en die tweede dui op die plant se robuuste aard: dit kan wind en weer deurstaan).

Mooi voorbeelde is te sien by Erfurthuis in Ryneveldstraat, by Ryneveldstraat 4, Boland Kollege en talle ander plekke.

Kenmerkend van hierdie palm is die lang, dun stam, ’n kroon van waaiervormige blare (Eng. fronds) en klein, swart vruggies. Almal in die dorp is omtrent ewe hoog, want hulle groei vinnig tot ’n bepaalde hoogte en nie omdat hulle op dieselfde tyd geplant is nie. In Engels word dit gepas ook sky dusters genoem.

Prof. Brian Bredenkamp vertel die volgende storie oor hulle: “Voordat ek die studente in die bosmeetkundeklas geleer het hoe om die hoogte van ’n boom te bepaal, het ek hulle die dorp in gestuur met die uitdaging om die hoogste boom in die middedorp te identifiseer. Jaar ná jaar was daar amper konsensus dat die palm langs Erfurthuis die hoogste is. Toe hulle ’n bietjie meer geweet het, moes hulle die oefening herhaal, maar die werklike hoogte moes ook bepaal word. Dit was met ongeloof dat hulle ontdek het die palm se hoogte is minder as die helfte van die hoogte van die Norfolkden voor die kweekskool – ’n pragtige voorbeeld van oëverblindery”.

’n Week voor Paassondag gedenk ons Palmsondag, die dag toe Jesus Jerusalem op ’n donkie binnegery en die mense palmblare voor hom uitgestrooi het.

Dit was waarskynlik blare van die dadelpalm (Phoenix dactylifera) wat sedert antieke tye in die Midde-Ooste geweek is vir hul vrugte en waarvan die blare volgens Google tydens triomfantlike optogte uitgestrooi is om oorwinning te simboliseer.

Dit laat my dink aan die keer toe ek met die skrywer, my goeie vriend W.A. (Bill) de Klerk, oor demokrasie gepraat het. Sy gevolgtrekking was “Ja man, die demos (Gr. mense): die een dag skree hulle ‘Hosanna, Hosanna’ en die volgende dag ‘kruisig Hom, kruisig Hom’.”

Maar ek dwaal af.

Voor die kweekskool staan twee sierlike, naverwante palms (W. filifera) soos deurwagte.

Daar is ook pragtige Kanariese dadelpalms en sogenaamde onderrokpalms in die dorp, asook ’n mooi koninginpalm op die kampus van die Universiteit Stellenbosch.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.