Die Real Housewives van die Wynlande: Pienk ontploffings, brandewyn en ’n omgeryde boom

“Die wynlande is bietjie complicated.” sê Real Housewife Anita Lloyd.


“Die wynlande is bietjie complicated.” sê Real Housewife Anita Lloyd.

Vanaf die eerste episode van die langverwagte Real Housewives van die Wynlande, wys Amy Kleinhans-Curd, Anita Lloyd, Candice Bester, Karen Schwendtke, Mariska Thorpe en Michelle van Zyl presies hoe uitdagend ’n luukse lewe in die Wynlande nou eintlik is.

Kykers word met die intrapslag aan Amy Kleinhans-Curd bekendgestel, wat in 1992 die eerste vrou van kleur was om as Mej. Suid-Afrika gekroon te word. Sy woon tans in ’n huurhuis omdat haar gesinshuis opknappings ondergaan. Sy is opgewonde omdat sy op die punt staan om haar te rebrand van Amy Kleinhans na Amelia – haar geboortnaam.

Kort daarna ontmoet Amy die voormalige welvaarsbestuurder en fiksheidsmodel Mariska Thorpe vir middagete in Franschhoek. Amy wil graag met haar gesels omdat haar “gusband” [gay husband] en beste vriend, Erich Viviers, haar vertel het van Mariska se preloved klere wat sy aanlyn verkoop. Een van Amy se kennisse, Karen, daag ook by die ete op.

“Dit voel bietjie asof ek by ’n hoërskoolreünie sit. Nie myne nie,” sê Mariska terwyl Amy en Karen opvang.

Karen Schwendtke bly al vir vyf jaar in die Val de Vie-landgoed en het ’n “ingeboude liefde vir perde”. Sy ry gereeld op haar “Arabiere” en teel ook met dié gesogte resiesperdspesie.

Karen maak dadelik oop oor haar twee dogters uit haar huwelik van 22 jaar. Sy spog oor haar oudste, Saskia, wat tans in Dubai skoolgaan.

“Sy was verskriklik bevoorreg om in te kom in een van die topskole. So, sy is voor haar peers wat sy in die Boland agtergelaat het,” verklaar Karen trots.

Karen bieg sy “hou van geld, maar geld is nie haar god nie.”

Dinge raak egter stram tussen Karen en Mariska nadat Karen haar ’n “fairy” noem.

Amy nooi beide huisvroue na die “soft launch” van haar nuwe Cap Classique-vonkelwyn, Amelia, maar Karen vind dit nodig om op te merk dat Amy “nooit Amelia sal wees nie.”

Anderkant Simonsberg in Stellenbosch ontmoet kykers die voormalige sangeres Candice Bester, wat haar kunsternaarslewe vir ’n ander beroep opgegee het. Toe sy begin praat oor haar man, Werner, en die moeilike dae waardeur hulle moes gaan, loop die trane.

“Ons wou baie graag meer kinders gehad het,” vertel sy bewoë nadat sy haar enigste dogter, Emma, by die skool afgelaai het. Candice het ses miskrame gehad en vir eers “daai bootjie laat vaar.”

Al het sy nou ’n stimulerende werk, droom sy steeds daarvan om weer te begin sing. “Musiek is my eerste liefde. Dis wat my gelukkig maak.”

Mariska en die estetiese dokter Michelle gaan soek na ’n paar uitrustings nadat Michelle se man haar weer ’n kredietkaart gegee het. Toe Mariska vertel sy het Karen ontmoet, laat Michelle loop oor die gerugte wat sy van Karen “Schwedzer” gehoor het.

“Dis ’n boom-chakalaka-storie,” lag sy uiteindelik, maar weier om vir Mariska verder te vertel voordat sy nie self eers vir Karen daaroor uitvra nie.

En toe daag die wêreldreisiger en hoof van KWV se vrou, Anita Lloyd, by Michelle se praktyk vir ’n konsultasie op. “Gelukkig het ek nie ’n frons nie,” sê Anita terwyl Michelle haar gesig ondersoek om botox te spuit.

“Nee, jy hét,” help Michelle haar vinnig reg.

Die uitgesproke Anita verduidelik hoekom sy en haar man nie ’n huis in Val de Vie gekoop het nie, maar eerder ’n erf op die Pearl Valley-landgoed in Paarl waar hulle hul eie huis kon bou. “Ek is ’n goddamn amazing huisvrou,” sê sy sonder om te blik of te bloos.

“Ons almal dien Mammon. Ons is almal mal oor hom – die geldgod,” verklaar sy nadat sy haar sewe laaie vol juweliersware wys.

Uiteindelik ontmoet al die huisvroue mekaar by Amy se rebranding by Haute Cabrière en daar spat die vonkel en die vonke toe.

“Daar was ’n pienk ontploffing. So nipple-pienk,” sê Anita toe sy Mariska in haar “pienkste rokkie in haar kas” gewaar.

Onder in die kelder onthaal Amy die huisvroue met ’n spesiale vonkelwynproe. “Ek kan nie die hele aand so sit en suip nie,” kla Anita nadat Amy meer agtergrond oor haar Amelia-vonkelwyn gegee het.

Anita vertel daarop vir Amy eerlik hoe sy oor die eerste proe voel en voeg by dat sy uiteraard van wyn ken omdat haar man die uitvoerende hoof van KWV is.

“Ek ken hulle nie. Glad nie,” sê Mariska oor KWV.

“Almal ken dit in hierdie hele land. KWV!? Jinne, dolla!” reageer Karen geskok.

Daarna begin die huisvroue van hulle kinders praat en Anita laat weet almal in die vertrek dat sy uiteindelik “child-free” is. In aansluiting hieraan betreur Mariska al die druk wat daar deesdae op vroue is om kinders te baar, maar Anita reken dis net hier in ons wêreldjie waar dit die geval is en nie, byvoorbeeld, in Europa nie – “vroue regoor die wêreld baklei vir vroueregte.”

In haar videodagboekkamera sê Anita agteraf oor Mariska en hul meningsverskil teenoor kykers: “Toe het die pienk ontploffing langs my ’n stem. Ek dink sy misverstaan of nog erger – my suspisie is sy is oningelig, want sy praat k*k.”

“Daar gaan ’n groot konflik kom. Ek hoop julle weet dit,” voorspel Michelle ná afloop van die redekaweling.

Michelle vra vir Karen oor die boom-omryery in Val die Vie uit. Karen wil onmiddellik weet waar sy dit gehoor het.

“My pasiënte vertel my alles,” sê Michelle.

Watch what you tell your doctor,” skerts Amy.

Uiteindelik bieg Karen dat sy wel die slagboom omgery het en die volgende dag is daar ’n nuwe een geïnstalleer.

Karen nooi al die huisvroue na haar “divorce party.” Almal behalwe Amy sien dit as ’n viering van ’n nuwe begin vir Karen, maar vir Amy maak die konsep nie heeltemal sin nie.

New beginnings. It’s my life,” sluit ’n tranerige Karen die episode af waarna Anita die volgende waarneming oor Karen deel: “She has lived many lives. And a lot of them were not pretty. Jy sien, ek sê die goed wat niemand gaan sê nie.”

Die Real Housewives van die Wynlande is slegs te kyk op kykNET (DStv 144) elke Donderdagaand om 20:00 en op DStv Catch Up.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.