Dié seders is ‘heilige bome’

Heel gepas staan daar drie reusesederbome op die regtergrens van die Stellenbosch United Church (voorheen die Presbiteriaanse kerk) in Pleinstraat, seker geplant pas nadat die kerk in 1926 gebou is. Gepas, omdat hierdie seders deur sommige as “heilig


Heel gepas staan daar drie reusesederbome op die regtergrens van die Stellenbosch United Church (voorheen die Presbiteriaanse kerk) in Pleinstraat, seker geplant pas nadat die kerk in 1926 gebou is. Gepas, omdat hierdie seders deur sommige as “heilige bome” beskou word. Selfs die wetenskaplike naam vir hierdie boomsoort uit die Himalaja-gebergtes, naamlik Cedrus deodara, dui daarop: volgens Google beteken die Sanskritterm devadaru “hout van die gode”, ’n samestelling van deva “god” en daru “hout, boom”.

Ook in die Bybel word sederbome dikwels genoem. Byvoorbeeld in 2 Samuel 7:2 sê koning Dawid: “Kyk, ek woon in ’n huis wat met sederhout versier is . . .” en in 1 Konings 7:8 word Salomo se troonsaal as volg beskryf: “Dit was van die vloer tot teen die dak met sederhout uitgevoer.”

Die sederbome van die Bybel is nie die Himalaja-seder nie, maar wel die naverwante Libanese seder Cedrus libani, afkomstig van Libanon, ’n klein landjie net noord van Israel aan die Middellandse See. Albei soorte se hout is besonder sterk en duursaam, deels omdat dit vanweë die besondere olie daarin insekafwerend is. Wolkomberse en -truie word dikwels juis in sederhoutkiste gestoor om hulle teen die aanslae van kleremotte te beskerm.

Daar is net vier soorte “egte” seders, nl. die twee hierbo genoem en dan nog die Ciprusseder (C. brevifolia) en die Atlasseder van Marokko en Algerië (C. atlantica). Suid-Afrika se sederbome behoort aan diesefde familie as die egte seders (familie Cupressaceae), maar word in ’n ander genus geplaas. Ons het drie soorte, nl. die Clanwilliamseder (Widdringtonia cedarbergensis), die Baviaaanskloofseder (W. schwarzii) en die klein bergsipres (W. nodiflora) wat deel is van die fynbos in Jonkershoek en elders. Laasgenoemde is die enigste seder wat weer ná ’n brand kan uitloop. Soos ook die rooihoutbome van Kalifornië en gewone dennebome is hulle almal naaldbome (Eng. conifers), met manlike stuifmeel wat deur die wind na die vroulike keëls gedra word vir bevrugting. By die saadknop in die keëls word ’n druppel vloeistof afgeskei om die stuifmeel op te vang, sodat ’n saadjie (bv. ’n dennepit) gevorm kan word.

Benewens die drie Himalaja-seders van die United Church is daar ook mooi voorbeelde by Buitekringweg 23 en 63 asook by Meerlustlaan 7. In laasgenoemde straat het drie bekende Duitse families wat langs mekaar gebly het, nl. Schröder, Heuer en Reuter, elkeen seder in die voortuin gehad, maar net die een het oorgebly. Volgens Hans Heuer het sy pa hierdie bome omstreeks 1971 ingevoer om mooi Europese dennebome (“Tannenbaume”) in die straat te hê. Kenmerkend van hierdie bome is takke wat af hang, sodat sneeu nie daarop versamel nie, maar kan afgly.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.