Diefstal haal vonk uit dag

Kabeldiefstal op plase naby die N1 tussen Klapmuts en die Paarl het die afgelope paar maande drasties toegeneem – só erg dat plaasbewoners vir etlike ure en selfs dae sonder krag gelaat word.


Kabeldiefstal op plase naby die N1 tussen Klapmuts en die Paarl het die afgelope paar maande drasties toegeneem – só erg dat plaasbewoners vir etlike ure en selfs dae sonder krag gelaat word.

Volgens Courtney Griffin, ’n plaasbewoner op Mossienes, het kabeldiefstal in die afgelope twee maande tot met twee keer per maand toegeneem.

Die Drakenstein-munisipaliteit het die voorvalle bevestig en gesê verskeie diefstal- en vandalisme-voorvalle het die afgelope maande oor die hele Drakenstein- munisipale gebied heen plaasgevind.

“Verlede jaar is kabels elke maand minstens een keer per maand gesteel en ons was dan vir ure sonder krag. Sedert Januarie vanjaar het dit so erg geword dat dit twee keer per maand gebeur het. Verlede week is kabels vier keer in agt dae gesteel. Ons weet nie meer wat om te doen nie,” het Griffin gesê.

Marius Wüst, die uitvoerende direkteur van ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, sê die munisipaliteit se afdeling vir elektro-tegniese dienste het sedert Januarie in 130 gevalle herstelwerk gedoen. Die munisipaliteit het ’n geraamde R15 miljoen sedert 2014 aan herstelwerk bestee, en nog sowat R5 miljoen sedert Julie verlede jaar.

Die kabeldiefstal vind glo in die vroeë oggendure plaas.

“Dit gebeur gewoonlik tussen 02:00 en 04:00 soggens wanneer ons slaap. Wanneer ons in die oggend opstaan, is daar geen krag nie. Wanneer ons die munisipaliteit bel, sê hy hy kan eers 08:00 iemand uitstuur omdat dit ’n kontrakteur is wat die herstelwerk doen.”

Dit blyk, volgens die Griffin, op dieselfde plek te wees waar die kabels elke keer gesteel word.

“Die herstelwerk neem ook lank en duur tussen drie tot vier ure. Sommige kere is ons vir dae sonder krag. Ons was selfs Kersfees sonder krag. Ons wil net weet of die munisipaliteit en polisie nie iets aan die saak kan doen nie?”

Die munisipaliteit sê hy het ’n aksieplan opgestel om te help om hierdie reuseprobleem die hoof te bied.

“Die stadsbestuurder het ’n gespesialiseerde eenheid vir metaal- en kabieldiefstal op die been gebring om spesifiek vandalisme, diefstal van munisipale infrastruktuur en kabeldiefstal te bekamp. Intussen het die munisipaliteit reeds die toepassing van munisipale ordonnansies saam met private veiligheidsmaatskappye verskerp, en werk ook saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens en plaaseienaars in dié verband,” sê Wüst.

Volgens hom word die gebiede wat deur kabeldiefstal en vandalisme geteister word, gepatrolleer – van Simondium en omliggende gebiede af tot by Wellington en omliggende gebiede – en hoewel ’n afname sedert November 2021 plaasgevind het, het die diefstal-voorvalle nou weer begin toeneem.

“Wat die vervanging van kabels betref, beweeg die munisipaliteit tans weg van kopergeleiers en installeer, waar prakties moontlik, aluminiumgeleiers, wat ’n baie laer herverkoopswaarde het. Ons beveilig ook elektriese kiosks met staalklampe en spesiale slotte.”

Wüst voeg by diefstal en vandalisme is ’n reuseprobleem en het ’n baie negatiewe impak op die munisipaliteit se bedryfsbegroting.

“Dit belemmer veral noodsaaklike instandhoudingswerk aan ons elektriese netwerk. Dit is eenvoudig nie moontlik om die hele netwerk, asook die infrastruktuur, te beveilig sonder die hulp van ons gemeenskappe en verbruikers nie. Dit is waarom die Drakenstein-munisipaliteit ’n beloning van tot R5 000 aanbied vir enigeen wat geloofwaardige inligting verskaf wat kan lei tot die suksesvolle inhegtenisneming en skuldigbevinding van mense wat by enige misdadige optrede – soos kabeldiefstal, brandstigting en onwettige vullisstorting – betrokke is.”

Inwoners word versoek om enige verdagte optrede by die 24/7-beheerkamer by 021 807 8508 of by die polisie aan te meld. Anonieme wenke word ook verwelkom by 021 807 8508 of die tolvrye nommer 080 131 3553.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.