Die voortgesette diefstal en vandalisering van Eskom-toerusting en kritieke infrastruktuur het ’n ernstige uitwerking op kragvoorsiening aan klante in Stellenbosch en omliggende gebiede.Foto:


Die voortslepende diefstal en vandalisering van Eskom-netwerkinfrastruktuur veroorsaak langdurige kragonderbrekings in Stellenbosch en omliggende gebiede.

Só het die kragvoorsiener Vrydag in persverklaring gesê nadat ’n substasie verlede week in Cloetesville gebrand en sekere gebiede langer as 24 uur sonder elektrisiteit gelaat het.

Luidens die verklaring het die voortgesette diefstal en vandalisering van Eskom-toerusting en kritieke infrastruktuur ’n ernstige invloed op die kragvoorsiening aan klante in Stellenbosch en omliggende gebiede.

Eskom sê sy tegnici is toegegooi onder herstelwerk by kragstasies weens diefstal, vandalisme en onwettige aansluitings, en verskeie spanne werk daaraan om die kragvoorsiening te herstel.

Eskom sê hy verstaan die frustrasies weens voortdurende kragonderbrekings as gevolg van elektrisiteitsverwante misdaad en versoek die publiek om met inligting vorendag te kom wat hierdie oortreders agter tralies kan sit.

“Om betroubare voorsiening aan betalende klante te verseker en gemeenskappe veilig te hou, benodig Eskom dringend die ondersteuning van gemeenskappe en ons moedig die publiek aan om enige verdagte aktiwiteite oor onwettige aansluitings, kabeldiefstal en vandalisme aan te meld deur die Eskom-nommer vir misdaad by 0800 11 27 22 te skakel of die plaaslike polisie te kontak,” lui die verklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.