’n Toename in diefstal die afgelope maand uit motorvoertuie in parkeerruimtes in Stellenbosch het opnuut kommer by motoriste gewek, maar dit is nie ongewoon nie, sê die Stellenbosch-polisie en beskryf sommige voorvalle as nalatigheid.

“Parkeerruimtes is egter een van die mees prominente plekke waar hierdie soort misdaad plaasvind,” het kapt. Nathalie Martin, polisiewoordvoerder van Stellenbosch, gesê.

’n Vrou van Stellenbosch is verlede Dinsdag (15 Februarie) in skok gelaat toe sy besef het haar rekenaar is uit haar motor se bagasiebak by Eikestad-winkelsentrum gesteel.

Volgens Tracey-Lee Koopman (38) het sy omstreeks 13:50 in die parkeerruimte in Dorpstraat parkeer om inkopies by die Eikestad-winkelsentrum te gaan doen.

“Ek het net gou-gou inkopies by ’n paar winkels gedoen, en is toe weer terug in my motor op pad huis toe.”

Sy noem dat sy eers later besef het dat haar rekenaar weg is.

“Toe ek by die huis kom en begin om my sakkies uit te pak, en my bagasiebak oopmaak om my rekenaarsak te kry, besef ek toe dat my rekenaar weg is. Ek was absoluut geskok en moes twee keer kyk om seker te maak ek verbeel my nie.”

Koopman se motor is nie beskadig om toegang tot die rekenaar te kry nie en sy vermoed dat daar dalk met haar motor se sluitstelsel gepeuter is.

Dié parkeerruimte wat aan Stellenbosch-munisipaliteit behoort, blyk egter nie onbekend onder inwoners wanneer dit kom by diefstal nie.

Vroeg in Februarie het nog ’n slagoffer wat in Stellenbosch sake kom doen het, deurgeloop.

Kaylee van Schalkwyk het op 3 Februarie omstreeks 19:30 haar kar by dieselfde parkeerplek geparkeer. “Ek het probeer om my motor met my afstandbeheer te sluit, maar dit wou nie. Ek het dit toe manually gesluit.”

Volgens Van Schalkwyk was sy nie langer as 15 minute weg van haar motor nie en het met haar terugkoms met skok besef haar motor se venster is uitgeslaan.

“Ek weet nie eens hoe hulle my sak gesien het nie, want ek het dit weggesteek. Maar die sak was weg met belangrike dokumene daarin, asook my selfoon en ’n horlosie.”

Martin het die voorvalle bevestig en bygevoeg dat die polisie gereeld verdagtes in hegtenis neem en dat hulle sekere planne het om hierdie soort misdaad hok te slaan.

“Maandelikse vergaderings word met Eikestad-winkelsentrum, [die] munisipaliteit en ander rolspelers gehou om planne te maak om die dit aan die kaak te stel. Sigbare polisiëring word op ’n daaglikse basis met polisievoertuie gedoen en ook by tye word voetpatrollies deur polisiebeamptes uitgevoer,” sê Martin.


V

Vervolg op bl. 2.

You need to be Logged In to leave a comment.