Danie Marais, ’n digter en skrywer van Stellenbosch, het onlangs sy nuutste werk, Ek en jy bestaan nie (inlas), bekend gestel.


In sy laaste laerskooljare het Danie Marais se bibliotekaresse-ma hom voorgestel aan die Junior Verseboek wat deur D.J. Opperman saamgestel is. Dít was sy eerste ontmoeting met poësie.

Nou, dekades later, vier dié Stellenbosse digter die bekendstelling van sy derde digbundel, Ek en jy bestaan nie. Dis sy vierde boek en volg op die hakke van die digbundels In die buitenste ruimte (2006), Al is die maan ’n misverstand (2009) en Solank verlange die sweep swaai (2014), en sy rubriek- en essay-bundel van 2015, Pruimtwak en skaduboksers.

Die Eikestad, sy mense en sy samelewing is sentraal tot die idee agter Ek en jy bestaan nie. Hy het in 2015 gedurende die #FeesMustFall-opstande – ’n tyd van “politieke ongeduld en wrewel” – aan die bundel begin werk en het dit vroeg vanjaar voltooi.

“Dit was ’n langer proses, maar het ontstaan uit die ongemakke van ras en klas in ’n geweldig ongelyke Stellenbosch,” verduidelik Marais. “Ek wou probeer sin maak van my eie posisie en bevoorregting as pa en middeljarige middelklas-witman in hierdie verskeurde samelewing. Ek wou die moeilikste vrae rakende bevoorregting in gedigte verken op soek na groter begrip en eerlike antwoorde.

“Die ongemakke van ras en klas is gebed binne die raamwerk van ’n meer universele bestaansangs wat met middeljarigheid gepaard gaan. ’n Mens wonder hoe jy hier beland het.”

Marais is in Kimberley gebore en het vir die eerste sewe jaar van sy lewe in die Noord-Kaapse dorp as deel van ’n liefdevolle middelklas-gesin grootgeword. Die Marais-familie het na Pretoria verhuis, waar Marais sy skoolloopbaan van gr.2 tot matriek aan die Hoërskool Menlopark voltooi het.

Sy pa, Callie, was ’n ingenieur en sy ma, Cecile, ’n Afrikaans-onderwyser voordat sy as bibliotekaresse by Unisa begin werk het. “Deur haar was ek van kleins af lief vir stories en boeke. Sy het my iewers in die laaste jare van laerskool die Junior Verseboek gegee, en dit was my gateway drug na poësie.”

Marais se oupa, ds. Dirk Jordaan, was destyds leraar van die NG Sendingkerk in Distrik Ses en het die gedwonge verskuiwings van die 1960’s beleef. “Dit het ’n groot indruk op my ma gemaak. Sy het in die apartheidsjare saam met bruin kinders kerk toe gegaan, en dit het haar ’n ander perspektief gegee. Ek het dus grootgeword in ’n huis waar apartheid altyd as verkeerd en onregverdig gesien is.”

Ná skool het hy B.Comm Regte aan die Universiteit Stellenbosch studeer, waar hy in sy derde jaar verlief geraak het op ’n Duitse uitruilstudent. Nadat hy graad gevang het is hy agter dié liefde aan Duitsland toe. “In Duitsland het ek aan die Carl von Ossietzky-universiteit in Oldenburg in die onderwys studeer met Duits, wiskunde en filosofie as hoofvakke. Ek het daar ook as onderwyser gekwalifiseer,” vertel Marais.

Dit was sy verlange na sy geboorteland wat hom in 1996 tot pen en papier gedryf het. Hy het toe besef hy het nie ’n benul van die grootmenslewe nie, en sy verhouding met sy Duitse liefde het ook begin wankel.

Behalwe vir die poësie wat hy skryf, is dié pa van twee ook ’n kranige joernalis wat graag musiek- en boekresensies, rubrieke, essays en profiele skryf. As skrywer beskryf hy homself as “melancholies, ironies en nuuskierig”.

Die titel vir sy nuutste werk het uit ’n gesprek met ’n kollega in 1999 gekom. “ ’n Bruin werksvriend het een aand by ’n lekker kuier gesê: ‘Ou Danie, jy weet mos – swart, wit en bruin kan mekaar nie vat nie. Ek en ou Danie, ek en jy bestaan nie.’ ”

Marais moedig mense aan om die digbundel te lees om ’n gevoel van eensaamheid te kelder.

Die talentvolle skrywer werk tans saam met Erns Grundling en Bonanza Films aan ’n dokumentêr oor die geskiedenis van Afrikaans.

Marais is dié Saterdag (13 Julie) by die Stellenbosch-biblioteek in Pleinstraat in gesprek met Bibi Slippers oor Ek en jy bestaan nie. Die bekendstelling begin om 11:00. Bespreek jou plek deur Nizamudien Bray te kontak by 021 808 8397 of Nizamudien.Bray@stellenbosch.gov.za.

  • Sy digbundel is by boekwinkels en aanlyn via Takealot en Loot te koop.

You need to be Logged In to leave a comment.