Net meer as ’n jaar gelede het ’n brand ’n deel van die gewilde Exotic Animal World, beter bekend as Butterfly World, buite Klapmuts beskadig. Maar vandag het dié diereskuiling uit die as herrys en rehabiliteer en huisves meer as 700 eksotiese diere.
Volgens James Lawrence, die opvoedkundige bestuurder by Exotic Animal World, was die brand “verwoestend” en het die kombuis waar die diere se kos voorberei word, afgebrand.
Klein diere, soos slange, slakke, en eksotiese insekte, het ook in die slag gebly.
Elke donker wolk het immers ’n silwer randjie, en dít, volgens Lawrence, was die gemeenskap se hulp en ontferming teenoor die diere en werknemers van die Exotic Animal World-skuiling.
“ ’n Tydelike kombuis moes opgerig word, terwyl die De Wilger-restaurant en onthaal-lokaal, wat bure is van die Exotic Animal World, hul yskaste beskikbaar gestel het om die diere se kos te verkoel.
“Die hele proses om die kombuis te herbou, het drie maande geneem,” sê Lawrence.
Vandag pronk die skuiling met ’n splinternuwe kombuis en ontvang daagliks skoolgroepe en ander besoekers vir opvoedkundige toere oor eksotiese diere.
Die handel in en besit van eksotiese diere is onaangenaam, sê Lawrence, en betrek onder meer slange, skerpioene, skilpaaie, krimpvarkies, chinchilla’s, aapspesies soos lemurs, bebaarde akkedisse (bearded dragons), marmotte, piranha’s, papegaaie en ander voëls.
Volgens Lawrence is dit nie onwettig om eksotiese voëlsoorte in Suid-Afrika te besit nie, meer wel inheemse dieresoorte.
“Die troeteldierwinkels weet dit ook, maar steur hulle nie daaraan nie.”
Die meeste van die diere wat Exotic Animal World rehabiliteer, word deur óf Cape Nature, wat beslag lê op onwettige eksotiese diere, óf troeteldierwinkels en mense wat eksotiese diere besit, maar hulle net nie meer wil hê nie, aan hulle gegee.
Hierdie diere word dan die eiendom van Exotic Animal World, met permitte wat deur Cape Nature uitgereik word.
“Baiekeer bly die diere vir ewig by ons [Exotic Animal World] omdat hulle nie gerehabiliteer kan word nie,” sê Lawrence.
Die feit dat die diere eksoties is en nie in Suid-Afrika vrygelaat kan word nie, dra ook daartoe by.
Een geval wat hy uitlig, is die African Grey-papegaai, wat soos ander papegaai-spesies tot die ouderdom van 80 jaar kan leef, dikwels sy eienaars oorleef en treur wanneer die persoon sterf.
Dié voëlsoort kan dan in depressie verval en sy vere uittrek totdat hy amper heeltemal kaal is.
Een so ’n geval is aangemeld, waarna die voël vir rehabilitasie na Exotic Animal World gebring is sodat hy kon leer dat hy wel ’n “papegaai” en nie ’n “mens” is nie, volgens Lawrence.
Dié papegaai woon steeds by die skuiling.
“Die papegaaie se vere groei terug, maar partykeer trek hulle dit so erg uit dat dit nooit weer teruggroei nie en hulle kaal kolle op die lyf het.”
. Exotic Animal World maak ook staat op finansiering deur die publiek. Besoek hul webtuiste by exoticanimalworld.co.za vir meer inligting en om ’n welkome skenking te gee.