Die plaaslike digter Willem de Swyger is onlangs as finalis in die gesogte Ingrid Jonker: L’art Poétique-digkompetisie aangewys.
Dié kompetisie is vir die eerste keer in 2019 gehou en na Ingrid Jonker genoem vir haar bydrae tot letterkunde asook haar stryd om menseregte.
“Dit beteken geweldig baie vir my om ’n finalis te wees in ’n kompetisie soos hierdie. Dit is, wat my betref, ’n bevestiging dat die skryfwerk waarmee ek besig is op pad in die regte rigting is. Ek is opreg dankbaar vir die geleentheid wat hierdie kompetisie my bied,” sê De Swyger.
“Ek voel innig dankbaar dat iemand wat weet, gedink het my skryfwerk is goed genoeg om dit te publiseer. Om ’n kans daarop te waag. Daardeur kry my skryfwerk blootstelling aan ’n breër gehoor en kry ek die kans om hierdie, my eerste publikasie in ’n bundel, met ander opkomende skrywers te deel.”
Hy sê hy het vyf gedigte vir die kompetisie ingeskryf en al vyf is vir die bundel goedgekeur. “Die gedigte se onderwerpe is wyd uiteenlopend. Daar is onder meer iets oor die dood van Ingrid Jonker, ’n ode aan brandewyn, ’n skryfsel wat handel oor die geweld en plundery wat verlede jaar in KwaZulu-Natal en Gauteng voorgekom het, iets vir my dogter asook ’n afskeidsgedig vir my ma wat ek in 2018 verloor het,” voeg hy by.
De Swyger skryf al vir meer as 30 jaar en sê sy skryfwerk gaan oor die alledaagse wat hy beleef. “Ek dink skrywers is mense wat die vermoë het om anders te ‘sien’ – om iets anders raak te sien wat blink tussen die vaal klippies van die alledaagse wat hulle prikkel en inspireer en wat die skeppingsproses op die wyse aan die gang sit. Ek vind ook dat Stellenbosch, my tuisdorp, my baie inspireer, daar is bykans ’n gedig om elke hoek, in elke straat en in die blou berge en die groen Boland.”
De Swyger sê van sy gedigte is vantevore reeds agterop ’n wyn genaamd “Afrikaans” gepubliseer. “Hierdie gedig is voorgelees by onder meer die WAT se 95ste verjaarsdag. My werk is reeds verskeie kere op LitNet geplaas. Hierdie is egter my eerste in ’n bundel.”