Swak uitslae, ’n gebreekte arm en ’n gebrek aan veiligheid is glo die gevolge van spreiligte wat vir die afgelope jare nie werk nie.
Hoewel daar vandeesweek aan die sportterrein se ligte begin werk is, het sportklubs van Klapmuts jare lank gesukkel om die ligte aan te kry.
Volgens Francois Etson, die voorsitter van die Blue Stars United-rugbyklub, moet spelers Dinsdae en Donderdae in die donker oefen. ’n Speler het onlangs sy arm gebreek nadat hy in die donker in ’n gat getrap het.
“Die spelers het al gedreig om my en die klub te dagvaar oor die toestand van die sportfasiliteite. Daar is baie beloftes gemaak, elke keer was daar ’n gesloer, met dit en dan dat van die gloeilampe,” verduidelik Etson.
Met Eikestadnuus se aankoms by die sportterrein verlede Donderdag (16 Mei), was die veld vol atlete wat onder meer netbal, sokker en rugby in die skemer gespeel het.
In die middel van die veld dreun die kragopwekker wat Etson van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit ontvang het. Dié opwekker het ligte wat ’n paar meter ver skyn, maar hardloop die spelers te naby die kantlyne kan hulle nie veel sien nie.
“Ons werk met die jongmense omdat ons omgee,” vertel Edward Pietersen, voorsitter van die Klapmuts-netbalklub, ook verbonde aan die plaaslike sokkerspan.
Die netbalspelers moet weekliks ten duurste elders in Stellenbosch reis om hul wedstryde te speel. Toestande by hul tuisveld is só swak dat wedstryde nie hier gehou kan word nie.
’n Nuwe laer- en hoërskool is verlede jaar in die dorp geopen. Spelers van dié skole oefen saam met die dorpspanne omdat die skool se sport nog aan die gang kom, sê Pietersen.
“Hulle vaar goed. Al die netbalspanne het hul eerste wedstryde van die seisoen gewen. Ons help die skole ook. Wanneer die sokker- en netbalspanne speel, is dit ons toerusting wat hulle gebruik, so dit is regtig sleg dat ons nie ordentlike fasiliteite vir die kinders het nie.”
Stuart Grobbelaar, ’n woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, het by navraag gesê die spreiligte sal vandeesweek vervang word. “Ná ’n volledige assessering wat deur ’n konsultant uitgevoer is, is bevestig dat die spreiligte by die Klapmuts-sportfasiliteit voldoen aan die standaarde vir gesondheid- en veiligheidsnakoming en geen strukturele risiko’s inhou nie.
“Ná ’n versoek van die sportraad het die elektrisiteitsdepartement gereël om Klapmuts van agt gloeilampe te voorsien om die veld genoegsaam te belig vir oefeninge. Die lampe sal [verlede week] afgelewer word, met installasie wat vir vroeg dié week [vandeesweek] beplan is.”
Nog goeie nuus is dat opgraderings vir die munisipaliteit se sportvelde op pad is. Dit sluit in die verbetering van die elektriese infrastruktuur, beligting en die standaardisering van gloeilampe reg oor alle sportfasiliteite vir doeltreffende instandhouding en vervanging.
Grobbelaar voeg by die munisipaliteit het strukturele risiko’s by Idasvallei geïdentifiseer wat dringend ’n mas-vervanging genoodsaak het, terwyl ’n nuwe maspaal met beligting by die Pniël-sportfasiliteite geïnstalleer sal word.
“As gevolg van begrotingsbeperkings sal opgraderings aanvanklik prioriteit geniet by die Idasvallei en Pniël-sportfasiliteite, met die tenderproses wat Maandag 20 Mei gesluit het,” het Grobbelaar laat weet.
Veral die sokkerklub sê hulle het spelers verloor weens die swak toestand van die sportterrein. Benewens die frustrasies met die ligte is die omheining van die terrein ook maande al stukkend.
“Die unies is baie streng oor sekuriteit tydens wedstryde en met die omheining wat so stukkend is, is dit moeilik om kontrole te hou van wie in- en uitgaan,” verduidelik Ashwin Miya, wat onder meer ’n liga-skeidsregter is.
Die sportlui sê hulp van die munisipaliteit sal goeie, veilige geriewe beteken wat tot voorbaat van die gemeenskap se kinders sal wees.