Dis weer tyd vir bioskoop onder die sterre

Fliekgenot keer terug onder die sterrehemele van die Wynlande en Kaapstad met die 13de seisoen van die Galileo-buitelug bioskoop.

Die Galileo-buitelug bioskoop keer aanstaande maand terug vir sy 13de seisoen. Photo: Retroyspective


Fliekgenot keer terug onder die sterrehemele van die Wynlande en Kaapstad met die 13de seisoen van die Galileo-buitelug bioskoop.

Die seisoen word van Woensdag 16 Oktober tot Saterdag 17 Mei 2025 met die tema “Galileo onder die Sterre” aangebied. Fliekgangers kan kies en keur uit ’n uitmuntende versameling films vir alle smake – van klassieke rolprente tot hedendaagse treffers uit verskeie genres soos romanse, komedie, drama, animasie, musiekblyspele, en rillers. Spesiale vertonings vir Allerheiligeaand (Halloween), Kersfees, Valentynsdag en Paasfees word ook aangebied.

Gaste word genooi na ’n onvergeetlike fliekervaring onder die sterre by asemrowende lokale met fynproewerhappies en verversings vir net die beste in smaak en gerief.

Fliekvlooie sal verheug wees om te hoor dat The Galileo terugkeer na Blaauwklippen, Lourensford, Nooitgedacht, Leopard’s Leap, Glenelly, Kirstenbosch, Central Park in Century City en ander uitgelese wynplase in Paarl, Stellenbosch, Franschhoek en Kuilsrivier. Daarbenewens sal nuwe lokale in Wellington, Stellenbosch en Paarl ’n vars aanslag tot jou buitelug-fliekervaring bied.

Maak ’n aantekening op jou kalender en pak jou piekniekmandjie – kaartjies vir Suid-Afrika se geliefde buitelug-fliekervaring is by Webtickets te koop. Kaartjiepryse begin vanaf R145 per persoon, en die hekke open om 18:00 weeksdae en 17:00 Saterdae en Sondae. Maak ook gebruik van die verlengde spesiale verjaarsdagaanbod en afslagtariewe met The Galileo se spesiale aanbod vir pensioentrekkers en studente. Alle vertonings begin ná sonsondergang.

Benewens die fliek onder die sterre, kan jong en ou fliekgangers ook uitsien na ’n aand van heerlike kos, verfrissende drankies, pretspeletjies, energieke musiek, en ’n ongelooflike atmosfeer.

  • Vir die volledige lys films en om jou kaartjie te bespreek, besoek gerus www.thegalileo.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.