Die Stellenbosse drankreus Distell is nou amptelik in die hande van die internasionale bierreus Heineken.
Dit volg nadat Heineken Distell en Namibia Breweries verkry het in ’n transaksie wat hulle kombineer om ’n nuwe sake-arm genaamd Heineken Beverages te skep.
Capevin (nou CVH Spirits) hou saam ook ’n groot aandeel.
Heineken het verlede week oorgeneem nadat aan al die voorwaardes van die mededingingstribunaal voldoen is.
Dit sluit in die verkoop van Heineken se Strongbow-handelsnaam aan ’n entiteit waarvan die meeste aandeelhouers voorheen benadeelde mense moet wees.
Heineken het Strongbow vrywillig prysgegee sodat daar meer mededinging in die mark kan wees, synde hy ook nou Distell se Savanna en Hunters gaan besit.
Hy besit ook Amarula en Distell se wynafdeling, wat Drostdy en Two Oceans insluit.
Heineken besit ook 60% van Namibian Breweries.
Die plaaslike Heineken Beverages is nou die vyfde grootste in Heineken se stal.
CVH Spirits hou beheer oor Distell se whiskey-afdeling, soos die Scottish Leader-handelsnaam, asook oor handelsname soos Gordon’s Gin.
Heineken Beverages het wel aan CVH die buitelandse verkoopsreg vir wyn en Amarula vir die volgende twee jaar gegee, aangesien hy reeds goed in dié mark ingeburger is.
Heineken Beverages het wel seker gemaak hy het ’n perd in elke resies en besit ook ’n minderheidsaandeel in CVH.
Die Rupert-familie het steeds ’n groot aandeel in Remgro, die maatskappy wat ’n 31,7%-aandeel in Distell het.
Die Openbare Beleggingskorporasie het ook ’n aandeel in Distell.
Wat gebeur met jou aandele?
Distell het ook sy ontstaan in ’n mate aan die Rupert-familie te danke. Stellenbosch Farmers’ Winery (SFW) en die Distillers-groep het in Desember 2000 saamgesmelt en Distell gevorm.
Distillers is in 1945 deur Anton Rupert begin en Amarula het ook hier sy ontstaan gehad.
Distell is in 2001 op die JSE genoteer en het Woensdag gedenoteer. ’n Aandeel was toe sowat R180 werd. Aandeelhouers is in Februarie al die keuse gebied om in die nuwe twee entiteite te belê of ’n kontantuitbetaling te ontvang.
Diegene wat besluit het om hul aandele te hou, se aandeel in Heineken Beverages is nou R165 per aandeel werd en R15 per aandeel in CVH. Beleggers kon ook kies om slegs in een van die entiteite te belê.