‘n Middeleeuse wa met ‘n paraboliese struktuur daarop gemonteer om sonlig te konsentreer, het baie aandag getrek by Universiteit Stellenbosch (US) se Rooiplein.
Prof. Paul Papka en fisikastudente van die Sonkrag Termiese Energie-navorsingsgroep by die US se fisika departement hoop om bewustheid van sonkrag te verhoog deur sop wat in ‘n 50 liter pot op dié struktuur gekook is, uit te deel.
Aan die ander kant van die struktuur het prof. Frank Dinter en studente van die Sentrum vir Hernubare Energie Studies wors op ‘n sonpaneel gebraai.
Die wa waarop die struktuur gemonteer is, is nege meter lank, agt meter breed en ses meter hoog.
Die struktuur se paraboliese spieëls, wat 12 vierkante meter groot is, konsentreer sonlig op ‘n oppervlak van slegs 30 vierkante sentimeter om die sop te kook.
Die hoeveelheid energie wat hierdeur geskep word, is gelykstaande aan die energie geproduseer deur drie tot vier ketels.
Papka sê dit het hulle ‘n jaar geneem om die Middeleuse wa van herwinde materiale te bou.
Die uitstalling is aangebied in samewerking met die US se kunsdepartement.
Die struktuur is nog vanmiddag te sien op die Rooiplein. Daarna sal dit na sy finale bestemming, Afrika Burn, geneem word waar dit, heel moontlik, verbrand sal word.