Minstens twee voertuie, waaronder ’n rooi Jeep Grand Cherokee en ’n vragmotor, is teen Dinsdagoggend in Khayamandi, Stellenbosch, aan die brand gesteek.
Dit is onbekend of die voorvalle verband hou met die voortslepende taxi-staking in Kaapstad, wat sedert verlede week na Stellenbosch oorgespoel het.
Die Khayamandi-taxivereniging ontken ten sterkste dat sy lede enigsins by hierdie vandalisme betrokke was.
“Ons mandaat is om ons taxi’s by die staanplek te laat staan en nie te (laat) ry nie. Al wat ons doen, is om ander te oortuig om nie mense te vervoer nie, want ons wil hê die regering moet na ons luister. Die brand van vragmotors en motors is nie deur ons nie; nie eens ’n taxibestuurder nie. Hoewel mense in hegtenis geneem word, sal jy nooit ’n taxibestuurder sien nie. Ons het belowe om nie by geweld betrokke te raak nie,” het Theo Mbeshu, die voorsitter van die Khayamandi-taxivereniging, gesê.
Die Stellenbosch-polisie het die voorvalle bevestig, maar sê hulle kan nie bevestig of die vandalisme met die staking verband hou nie.
“Ons kan bevestig dat ’n voertuig Maandagaand (7 Augustus) omstreeks 19:05 op die R304 by Khayamandi aan die brand gesteek is. Polisiebeamptes het patrolliewerk by die Khyamandi-taxistaanplek te doen op soek na vir verdagte aktiwiteite toe hulle sowat 20 mense by die taxistaanplek sien saamdrom het. Hulle het toe die rooi Jeep Grand Cherokee sien brand en vinnig gereageer,” het kapt. Nathalie Martin, ’n polisiewoordvoerder, gesê.
Martin het gesê die polisie het dadelik gereageer, maar is deur die mense met klippe bestook, terwyl die verdagtes tussen die huise deur weggehardloop het.
“Die polisie en wetstoepassers het hulle agternagesit. Die brand is deur die plaaslike brandweer geblus. Geen beserings is aangemeld nie.”
In die tweede voorval is ’n vragmotor van die Oakely-groepmaatskappy Dinsdagoggend (8 Augustus) omstreeks 10:00 by Khayamandi-sirkel oorkant die taxistaanplek aan die brand gesteek. Die bestuurder het daarin geslaag om te ontsnap en het geen beserings opgedoen nie.
Die voorkant van die vragmotor het heeltemal uitgebrand. V Na bl. 2.