Die gesegde lui: “Tyd in die mark klop jou tydsbere­kening van die mark”.

Ons wêreldekonomie is soos ’n skip in woelige waters. Ons het al die wysheid nodig wat ons kan versamel om die skip op koers te hou en te navigeer deur wat voorlê. Die afgelope drie jaar het ons deur skok ná skok ná skok geleef.

Elke uitdaging skep geleenthede

Die huidige komplekse en onvoorspelbare marktoestande het gelei tot ’n aansienlike herprysing van bates. Aandele het in September skerp gedaal weens vrese dat die Amerikaanse Federale Reserweraad se aggressiewe rentekoersverhogingsiklus die ekonomie tot stilstand kan bring.

Met verdere stygings wat voorlê, tesame met min groei, geopolitieke onrus en voortslepende inflasiedruk, kan dit egter ’n lang tydperk van onsekerheid en wisselvalligheid beteken. Hoewel beleggers ’n voortgesette herstel met sterk groei oor die breë mark verwag, is daar tans egter steeds verskeie markrisiko’s wat ’n lang skadu oor ekonomiese vooruitsigte werp.

Die vraag is dus: Hoe moet beleggers geleenthede te midde van onsekerheid identifiseer?

Sleuteltemas terwyl in die laaste kwartaal van 2022, met die oog op 2023:

Inflasie: Die hoogtepunte duur voort

Aanhoudende prysdruk maak dit noodsaaklik om beleggings aktief te diversifiseer met bates wat minder vatbaar is vir veranderings in die ekonomie en inflasie, soos sommige waarde-aandele, eiendom en talle ander bateklasse.

Strategieë wat op sekulêre groeinei­gings in die lang termyn in tegnologie- en ander sektore fokus, kan op grond van huidige waardasies met ’n langtermyn-uitkyk oorweeg word.

Effektekoerse

Inkomstegenererende bates word al hoe meer waardevol as gevolg van die konstante styging in rentekoerse.

Die effekte van ontwikkelde lande lewer steeds negatiewe reële opbrengste. Aangesien koerse aanhou styg, kan hulle oor die kort termyn steeds weerstand ervaar.

Plaaslik lewer ons langtermyn-effekte aantreklike opbrengste van meer as 10%. Hier is ’n potensiële geleentheid namate koerse begin normaliseer.

Suid-Afrika as ’n beleggingsopsie?

Die kort antwoord is ja. Ons is optimisties oor die vooruitsigte van die meeste Suid-Afrikaanse bateklasse. Plaaslike kontantkoerse is baie hoër as wat in oorsese markte aangebied word.

Kontant bied ’n goeie buffer teen die onbestendigheid van aandele, en namate koerse aanhou styg, daal die geleentheidskoste om meer konserwatiewe bates te hou. Sikliese sektore soos banke, sekere kommoditeite en energie lyk ook aantreklik op grond van ons navorsing.

Hierdie sektore is egter nie die enigstes wat waarde bied nie. Dus is deeglike navorsing nou baie belangrik.

Onthou, die enigste opdraande in jou beleggingsreis moet jou opbrengs en prestasie wees. Praat dus gereeld met jou adviseur om seker te maak dat jy ’n volledige oorsig het van wat jou strategie is en hoe dit ontwikkel.

Dít is uiters belangrik om voortgesette gemoedsrus te verseker, ondanks voortdurende “geraas” in die mark.



.
Karel de Waal is ’n welvaartadviseur by PSG Wealth, Cecilia Square, Paarl. Hy kan per e-pos by DeWaal.Karel@psg.co.za

bereik word.. Die inligting in hierdie artikel is algemene inligting. Dit is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult-groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel hul voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning is ’n gemagtigde finansiële diensverskaffer.

You need to be Logged In to leave a comment.