Doen dit net, moenie vir iemand anders wag om dit te doen nie

Sy het toegang tot onderrig, en veral hoër- en tersiêre onderrig, gekry deur die “genade van vreemdelinge”. Dit is volgens prof. Thuli Madonsela, wat deur die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Onderwysreg (SAVO) vereer is met ’n toekenning vir haar lewe


Sy het toegang tot onderrig, en veral hoër- en tersiêre onderrig, gekry deur die “genade van vreemdelinge”. Dit is volgens prof. Thuli Madonsela, wat deur die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Onderwysreg (SAVO) vereer is met ’n toekenning vir haar lewensbydrae tot die regte en onderwys.

In haar benoemingstoespraak het SAVO se president, prof. Mariëtte Reyneke, Madonsela beskryf as ’n “baken van inspirasie wat voortgaan om by te dra tot die regslandskap van Suid-Afrika”. Die geleentheid het plaasgevind as deel van SAVO se kongres in Kaapstad verlede week. Die toekenning word gemaak aan individue wat beduidende bydraes gemaak het tot die velde van onderwys en die regte en wie se loopbaan getuig van volgehoue uitstaande toewyding en harde werk.

“Prof. Madonsela het aan baie Suid-Afrikaners bekend geword gedurende haar termyn as Openbare Beskermer. Sy was ook betrokke by die opstel van die Grondwet en verskeie ander wette, insluitend die Wet op Gelykheid. Haar hele loopbaan word gekenmerk deur haar onwrikbare toewyding tot die beginsels van geregtigheid, gelykheid en regverdigheid,” sê Reyneke.

In haar aanvaardingstoespraak het Madonsela drie voorstelle gemaak vir onderwys in SA om suksesvol te wees. Dit sluit in om toe te sien dat onderwys doelbewus ontwerp word, en ontwerp word vir almal, dat ’n gedeelde menslikheid en ’n bewustheid van sosiale geregtigheid die grondslag vorm vir die ontwerp, implementering en handhawing van onderwysreg, en dat diegene wat betrokke is by onderwysreg ingestel is op ontwerpvaardighede en instrumente.

“Hierdie voorstelle pas in by SAVO se doelwit om by te dra tot onderwys deur onderwysreg toeganklik te maak vir praktiese toepassing in die skoolstelsel,” sê Reyneke.

Sy noem ook dat Madonsela se bydraes verder strek as haar professionele aktiwiteite. “Prof. Madonsela se toewyding tot sosiale kwessies is werklik ’n inspirasie. Sy het Mount Kilimanjaro twee keer geklim as deel van veldtogte om ’n positiewe impak op die samelewing te maak.”

Hieroor sê Madonsela dat diegene met ’n passie vir hul land nie moet wag vir ’n posisie of ’n titel nie. Haar pro bono werk vir verskeie sake selfs voordat sy die Openbare Beskermer geword het, is ’n bewys van haar benadering van “doen die werk”, met of sonder steun.

“SAVO is geëer deur prof. Madonsela se aanvaarding van hierdie toekenning. Terselfdertyd gee dit ook erkenning aan die werk wat die vereniging doen om ’n positiewe impak te maak,” sê Reyneke.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.