Servikale kanker is steeds die vierde mees algemene kanker by vroue wêreldwyd en ’n groot gesondheidsuitdaging.
Meer as 90% van sterftes kom in lae- en middelinkomstelande (LMIL) voor, met Afrika suid van die Sahara as een van die streke wat die swaarste getref word.
Servikale kanker, wat ontwikkel as gevolg van ’n langtermyninfeksie met die menslike papillomavirus (MPV), is die grootste oorsaak van kankersterftes onder vroue in Suid-Afrika, ten spyte van vooruitgang in vroeë opsporing en voorkoming.
“Hoewel daar ’n verskuiwing van selgebaseerde servikale kankersifting na MPV-DNS-sifting plaasgevind het, is laasgenoemde as sulks dikwels nie spesifiek genoeg om klinies bruikbare resultate te lewer om vroue te identifiseer wat die risiko loop om servikale siekte te ontwikkel nie,” sê dr. Robyn Adams.
Sy het onlangs haar doktorsgraad in verloskunde en ginekologie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Die titel van haar PhD-studie was “Exploring options for the secondary prevention of cervical cancer in South Africa”.
Adams het ondersoek ingestel na die gebruik van ’n chemiese proses bekend as DNS-metilering as ’n molekulêre toets om sorg in MPV-siftingsprogramme te prioritiseer, veral vir vroue wat met MIV leef en positief getoets word vir sekere hoërisiko-MPV-tipes, maar nie direkte verwysing vir behandeling ontvang nie. Vroue wat met MIV leef, loop ’n groter risiko vir aanhoudende hoërisiko-MPV-infeksies en servikale kanker weens verswakte immuunstelsels.
Volgens Adams bied DNS-metilering ’n potensiële oplossing om die spesifisiteit van MPV-sifting te verbeter. “Die DNS-metileringsmerkertoets werk deur spesifieke veranderings in die DNS van servikale selle op te spoor. Hierdie veranderings, bekend as metilering, vind plaas wanneer metielgroepe of ‘etikette’ by sekere dele van die DNS gevoeg word. Hierdie ‘etikette’, wat soos skakelaars optree, kan beïnvloed hoe gene geaktiveer word om die instruksies in die DNS te lees om proteïene te maak wat die selle help om hul werk te doen.
“Wanneer MPV-infeksie veranderings in die servikale selle veroorsaak, kan dit tot abnormale DNS-metileringspatrone lei. Die toets fokus op twee belangrike biologiese aanwysers wat al bewys is dat dit met die teenwoordigheid en erns van servikale siektes, insluitend servikale kanker, geassosieer word,” verduidelik sy.
Adams sê hierdie toets is uniek omdat dit, anders as tradisionele metodes soos selkontroles wat na abnormale selle soek, veranderings in die DNS teiken wat vroeër in die siekte plaasvind, wat dit moontlik maak om klinies beduidende MPV-geassosieerde servikale abnormaliteite op te spoor wat meer geneig is om tot kanker te oor te gaan.
“Deur hierdie vroeë molekulêre veranderings op te spoor, bied DNS-metileringstoetsing ’n meer akkurate manier om vroue te identifiseer wat ’n groter risiko het om servikale kanker te ontwikkel. Dit is veral belangrik in gebiede waar vertraagde toegang tot behandeling en opvolgsorg ’n uitdaging is.
“Wanneer dit saam met MPV-toetsing gebruik word, bied dit ’n meer akkurate manier om te bepaal of ’n MPV-infeksie waarskynlik beduidende siektes sal veroorsaak en of dit net ’n tydelike infeksie is wat nie onmiddellike ingryping vereis nie.”
Sy voeg by dat hierdie toets ook uitgevoer kan word op dieselfde monster wat vir MPV-toetsing gebruik word – hetsy dit nou deur ’n gesondheidsorgwerker of deur die vrou self geneem word.
Adams wys egter daarop dat hoewel die toets vroue met servikale probleme korrek geïdentifiseer het, dit ook ’n groot aantal ongeldige resultate opgelewer het, wat in sommige gevalle nie duidelike antwoorde gebied het nie.
Terwyl navorsing oor hierdie onderwerp voortduur, beveel Adams aan dat Suid-Afrika sy nasionale beleid vir die voorkoming van servikale kanker met die riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) belyn, wat MPV-DNS-toetsing as die goue standaard vir primêre sifting prioritiseer.