Die berugte eiendom op die hoek van Paul Kruger- en Birdstraat was vandeesweek weer in die kollig.Foto: Francois Lombard

Credit: SYSTEM

Die berugte eiendom op die hoek van Paul Kruger- en Birdstraat het vandeesweek weer in die soeklig beland toe die lyke van ’n jong paartjie Maandagoggend in ’n gruisgat op die perseel ontdek is.

Ethan Kirkland (19) en Leila Lees (18) was sedert Vrydag 21 Oktober vermis. Inwoners het Maandag, ná die twee se lyke in ’n motorwrak in die gruisgat ontdek is, op Eikestadnuus se Facebook-inskrywing kommentaar gelewer.

Thalita Warwick het gesê: “Sekerlik moet die eienaar asook die munisipaliteit aanspreeklik gehou word. Innige simpatie aan al hul geliefdes.”

Phoebe van Reenen het gesê sy hoop “daai verpeste gat word nou toegemaak!”

’n Ander inwoner het gesê: “Daardie gat is al jare so. Hoekom word daar nie iets aan gedoen nie? Vul die gat op of bou ’n hoë muur om die plek of iets.”

John Roelofse het gesê: “Die eienaar van die perseel het in die vroeë negentigs die gat gegrawe vir ’n gebou wat hy wou opsit, sonder goedgekeurde planne. Die munisipaliteit het hom gestop en die eienaar het besluit om die projek te laat vaar en net so gelos, in plaas van om aan die reëls te voldoen. Ek hoop iemand gaan dit nou aandurf en die eienaar dwing om dit op te vul. Dis jammer dat ’n tragedie eers moet plaasvind voordat aksie geneem word.”

In ’n poging om op inwoners se vrae te antwoord, het die Stellenbosch-munisipaliteit se direkteur vir beplanning en ekonomiese ontwikkeling, Anthony Barnes, Dinsdag (25 Oktober) ’n verklaring oor die status van Erf 7565 (De Canha eiendomme) in Birdstraat, uitgereik.

“Die munisipaliteit het deurlopend met die eienaar van die private eiendom oor moontlike oplossings gesels en verskeie ingrypings en maniere voorgestel om die ontwikkelingsproses te bespoedig,” lui die verklaring.

’n Ontwikkelingsgoedkeuring is luidens die verklaring in die vroeë 1990’s verleen vir die ontwikkeling van die eiendom in ’n multi-residensiële gebou. “Die ontwikkeling het begin, maar omdat die eienaar die voorwaardes verbonde aan die ontwikkeling oortree het, en meer spesifiek geweier het om ’n vereiste glipbaan te ontwikkel om toegang tot die eiendom te verkry, het die ontwikkeling gestaak. Die uitgebreide uitgrawings wat vandag op die eiendom gesien kan word, is as gevolg van hierdie ontwikkeling. Toe hierdie ontwikkeling gestaak is, is die uitgrawings nooit deur die eienaar gerehabiliteer nie aangesien die eienaar voortgegaan het met onderhandelinge met die munisipaliteit rakende die uiteindelike ontwikkeling van die eiendom.”

Volgens Barnes is pogings in die nasleep van die Covid-19-pandemie hernu om die ontwikkeling van die betrokke eiendom te fasiliteer en verskeie ingrypings is deur die munisipaliteit voorgestel.

“Die aangestelde argitek is aangemoedig om konsepbouplanne in te dien in die afwesigheid van die grondgebruikgoedkeuring om vooraf voldoening aan die Dennesig-ontwerpriglyne te verseker. Informele konsultasies met die argitek is vroeg in 2021 gevoer en die konsepbouplanne is in wese met in-beginsel-ondersteuning afgehandel. Met hierdie proses afgehandel, kon die uitstaande grondgebruikproses gefinaliseer word,” sê Barnes.

Ongeag hierdie bystand wat die munisipaliteit verleen het, sê Barnes, het die eienaar nie voortgegaan met die grondgebruikproses nie. “Ná verdere afsprake en aandrang om met die proses voort te gaan, is die kontakbesonderhede van die drie konsultante betrokke by die vorige grondgebruikaansoekprosesse in Dennesig aan die eienaar verskaf, wat uiteindelik een van hierdie stads­beplanningskonsultante (Urban Dynamics) genader het. Die munisipaliteit het ’n informele inligtingsessie begin om te verseker dat die aangewese stadsbeplannings­konsultant bewus was van die proses tot dusver, asook om hulp te bied om die spoedige afhandeling van die proses te fasiliteer. Hierdie proses was in September en Oktober 2021.”

Volgens Barnes het die eienaar egter daarop aangedring dat ’n prokureur eers voortgaan om ’n vereiste onderverdeling en konsolidasie te bewerkstellig van ’n klein gedeelte grond wat van die naburige Katolieke kerk verkry is. “Hierdie grond sal nodig wees om voldoende toegang tot die eiendom te fasiliteer. Hoewel die eienaar aangemoedig is om ook voort te gaan met die aansoek om die grondgebruiksregte te vestig, het hy daarop aangedring om eers hierdie proses af te handel.”

Ná ’n terrein-inspeksie oor die status van die sogenaamde De Canha-eiendomme vroeg in 2022, wat Erf 7565 ingesluit het, en eers ná talle navrae en nog ’n vergadering met die eienaar op 10 Maart 2022, is die aansoek om die konsolidasie van die Katolieke kerk se grond uiteindelik ingedien. Hierdie aansoek is verlede Dindag (18 Oktober) deur die munisipaliteit verwerk en goedgekeur.

Luidens die verklaring is die volgende ondernemings tydens ’n vergadering op 10 Maart 2022 deur die eienaar geopper:. Om die aansoek vir die onderverdeling en konsolidasie van die Katolieke kerk se grond in te dien;. Die oprig van behoorlike heinings;. Die dreineer en skoonmaak van die eiendom; en. Om voort te gaan met die aansoek vir die vereiste grondgebruiksregte.

“Hoewel die eerste twee ondernemings nagekom is, is die laaste twee ondernemings van die vergadering nie deur die eienaar van die eiendom nagekom nie.”

Eikestadnuus het verneem die eienaar het siek geword, wat ook bykomende tydsbeperkings tot die proses gevoeg het. “In bogenoemde verband is talle pogings aangewend om vroeg in Junie met die eienaar se seun te vergader. Hy het hom nooit daartoe verbind om met die munisipaliteit te vergader nie. Gevolglik is die bevindinge van die terrein-inspeksies van vroeg vanjaar in ’n verslag aangeteken en aan die eienaar se seun voorgelê, weer eens met die versoek om ’n vergadering te hou om hierdie bevinding te bespreek en intervensies waaroor ooreengekom is, te vereis. Geen vergadering met die eienaar of sy seun kon egter verseker word nie.”

Barnes sê die munisipaliteit het in Junie sy eerste probleemeiendom-verordening nog gepromulgeer. “Die bepalings van hierdie verordening sal ook op hierdie eiendom van toepassing wees. Die munisipaliteit gaan voort om druk op die eienaar van die eiendom uit te oefen om aan die ondernemings wat hy gemaak het, te voldoen.”

Daniel de Canha, die eienaar van die perseel, het gisteroggend (Woensdag 26 Oktober) kort voor druktyd op navraag kennis van ontvangs gegee en gesê hy sal later dié dag ’n volledige verklaring uitreik.

You need to be Logged In to leave a comment.