Leerders met spesiale leerbehoeftes kan met leerders in hoofstroomskole meeding – daar is niks verkeerd met hulle nie, hulle leer net anders.
So meen twee onderwysers van Dorothea-skool vir Leerders met Spesiale Leerbehoeftes wat die afgelope naweek deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) vir hul uitnemendheid in opvoeding vereer is.
Jasmin Meyer is vir uitnemendheid in spesiale opvoeding vereer en Shanley Cyster (wat onlangs by Laerskool Rietenbosch aangesluit het) is vir uitnemendheid in tegnologie – verbeterde onderrig en leer vereer.
Cyster was ten tyde van die benoemingsproses aan Dorothea-skool verbonde.
Meyer en Cyster is twee van 14 provinsiale wenners wat Donderdag Oktober die Wes-Kaap by die nasionale onderrigtoekennings sal verteenwoordig.
“Ons wens elkeen van hierdie uitstaande onderwysers geluk en sien daarna uit om nog groter prestasies van hulle in die toekoms te sien,” het David Maynier, minister van onderwys in die Wes-Kaap, gesê.
“Ons onderwysers is ons mees waardevolle bate en ons waardeer hul liefde, omgee en ondersteuning vir ons kinders elke dag.”
Meyer het gesê hierdie toekenning beteken vir haar baie en toon dat daar erkenning is vir wat sy in haar loopbaan vir die onderwys beteken.
Meyer, wat uit ’n lang linie van onderwysers stam, hoop hierdie toekenning maak vir haar deure oop om die persepsie oor spesiale skole te kan verander.
“Ons kinders kan ook met die ander kinders meeding. Hierdie proses van voorleggings het my laat besef hoe ver ek in my loopbaan gekom het en hoe my kinders ook oor die jare ontwikkel het. Dit is lekker om te sien hoe ons (ek en die leerders) gegroei het,” het sy verduidelik.
Vir Cyster is die toekenning ’n klop op die skouer. “Ek is baie dankbaar vir die toekenning. Dit was ’n groot skok – selfs om te sien wat ek oor die laaste twee jaar vermag en bereik het.”
“Ons kinders kan tegnologie soos enige ander kinders gebruik. Dit skep onafhanklikheid by hulle,” het sy gesê.
“Ek hoop dat hierdie toekenning vir my deure sal oopmaak om tegnologie-onderrig in skole te bevorder en so ’n impak in leerders se lewe te maak.”