Dorp gons oor nuwe ‘sekswinkel’

Talle inwoners van Stellenbosch is “ontsteld” en “ongemaklik” nadat ’n onderneming wat spesialiseer in “speelgoed vir volwassenes” onlangs in Birdstraat geopen het.


Talle inwoners van Stellenbosch is “ontsteld” en “ongemaklik” nadat ’n onderneming wat spesialiseer in “speelgoed vir volwassenes” onlangs in Birdstraat geopen het.

Martjie de Beer, ’n bekommerde inwoner, het aan Eikestadnuus gesê die nuwe winkel, Luvland, pas nie in by die dorp se “ryk geskiedenis, uitnemende akademie, kultuur, sport, kreatiwiteit en uitnemendheid” nie.

De Beer voel dié soort winkel kan skade aan die dorp se beeld doen.

“Die dorp lok seker die meeste van buitelandse besoekers en met so ’n winkel reg in die middedorp dink ek vir seker dit doen afbreuk aan die beeld van die dorp.”

Sy sê voorts sy en ander in die gemeenskap vrees dat die winkel ’n “sterk verbintenis met pornografie” het en “verband hou met verkragting en ander misdade”.

Eikestadnuus het ten tyde van ’n besoek aan die winkel gevind die winkel spesialiseer wel in seks-speelgoed en ander soorte toerusting vir die slaapkamer.

Die winkel, wat ’n gebou met ander klein besighede deel, het ook sy bure aan die praat. ’n Sake-eienaar wat graag anoniem wil bly uit vrees vir die verhuurder van die gebou, het genoem al die klein besighede rondom Luvland is ongelukkig.

“Ons is nie baie gelukkig oor die winkel nie. Hier is kinders wat hier verbyhardloop en nou word hulle aan dié goed blootgestel. Dit moet by ’n plek wees waar net volwassenes toegang tot die winkel het. Ons is eintlik vies vir die land lord wat dit toegelaat het,” het ’n sake-eienaar gesê.

Nog ’n winkeleienaar, wat ook anoniem wil bly, sê die winkel gaan ’n slegte invloed op sy klante hê. “Die meeste van my klante is skoolkinders, en hulle moet verby daai winkel loop voor hulle by my winkel kom.

“Dit stel hulle dus bloot aan daai besigheid en gee hulle gedagtes om seks uit te toets. Want seks is dan nou nie meer privaat nie. Dis letterlik langs ’n hoofpad van Stellenbosch en reg oorkant die Braak, waar kinders daagliks speel, dit is nie reg nie,” het die eienaar gesê.

Ander winkeleienaars meen die verhuurder het geldgierig opgetree, siende hy hulle nie vooraf oor die besigheid geraadpleeg het nie.

Luvland-woordvoerder Howard Lazarus het in teenstelling gesê hulle het ’n “baie hartlike welkom” en “groot ondersteuning” van Stellenbossers ontvang. Hy meen dat geen mense al oor hulle gekla het nie en dat hulle “baie positiewe terugvoer” van sowel klante as inwoners ontvang.

Lazarus sê hulle is glad nie ’n sekswinkel nie, maar dat hulle ’n “seksuele gesondheids- en welstandwinkel” is. Volgens Lazarus spesialiseer hulle slegs in produkte soos onderklere, romantiese kersies, speelgoed vir volwassenes en smeermiddels.

“Ons Stellenbosch-tak, sowel as baie ander, verkoop glad nie DVD’s, pornografiese tydskrifte ensovoorts nie,” het Lazarus gesê.

Volgens Lazarus het hul besigheid ook geen spesiale kamers of ruimtes waar mense na pornografiese materiaal kan kom kyk nie.

“As Suid-Afrika se grootste volwassenes-winkelgroep bestuur ons ’n skoon en wettige besigheid met meer as 65 takke oor die land. Ons bied nie enige ‘ander’ dienste behalwe die produkte op ons rakke nie.”

Daniel de Canha, verhuurder van die gebou, het gesê die inwoners het niks om oor te kla nie. “Niks onwettigs word gedoen nie. Dit is goedgekeur deur die munisipaliteit, daar is geen pornografie nie.

“Mense moet groot raak, hulle soort word Karens genoem wat so kla. Al die Karens in die wêreld moet ’n lewe kry. Leef daarmee saam.”

Volgens Stuart Grobbelaar, woordvoerder van Stellenbosch-munisipaliteit, mag so ’n soort besigheid wel bedryf word, maar hy sê dat Luvland egter tans onwettig bedryf word.

“Ingevolge Stellenbosch se soneringskemaverordeninge val hierdie tipe besigheid binne die bestek van ’n ‘volwasse vermaaklikheidsbedryf’.

“Hierdie tipe besigheid word gedefinieer as ’n afsonderlike tipe besigheid wat slegs met toestemming mag funksioneer en waarvoor ’n formele aansoek deur die munisipaliteit goedgekeur moet word.

“Die munisipaliteit is op Vrydag 22 April van die saak in kennis gestel. ’n Terreininspeksie- en rekord-ondersoek is gedoen om die status te verifieer.

“Daar is bevestig die volwasse vermaakbesigheid in Birdstraat word sonder die nodige toestemming bedryf, en die munisipaliteit sal ’n kennisgewing vir onwettige grondgebruik aan sowel die grondeienaar en operateur van die onderneming rig,” het Grobbelaar bygevoeg.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.