Stellenbosch se ouderwetse Sondag-mark is nou geskiedenis nadat die Stellenbosch-munisipaliteit besluit het enige dorpsmark moet na ’n “meer gepaste” staanplek skuif.
Die Dorp Street Sunday Market is in 2020 begin nadat die Covid 19-grendeltyd talle sakeondernemings in die dorp lamgelê het.
Die medestigters Danneel Stone, die eienaar van Adam & Eve Collab, en Leani Breedt het aanvanklik sakelui in Dorpstraat genader om weer ’n voet in die middedorp te kry.
“In daardie stadium het dit soos ’n spookdorp gelyk. Ons het eers na ’n buurman met ’n restaurant gegaan en gesels. Almal was in dieselfde bootjie,” verduidelik Stone.
“Ons het toe op ’n retail-dag besluit, wat op die verskeie ondernemings se stoepe sou wees.”
Skielik is die dooie Dorpstraat Sondae in ’n mark met meer as 80 stalletjies omgeskep.
Alles van vars brood tot Vinyl DJ Paulie se musiek het die straat gevul.
Breedt voer aan hulle het oor die jare verskeie kere na die Stellenbosch-munisipaliteit uitgereik.
“Ons het die munisipaliteit herhaaldelik uitgenooi om self te kom kyk om te verseker ons kom alle nodige munisipale verordeninge na.
“Wetstoepassers het in ’n stadium gesê daar was ’n paar goed waaraan ons aandag moet gee, wat ons gedoen het. Ná die regstelling het ons bevestiging gekry alles is in die haak en so het dit aangegaan vir 2021, 2022 en 2023,” sê Breedt.
Sedert die stigting het die mark ’n hoofbron van inkomste vir vele van die stalletjiehouers geword.
Benewens plaaslike mense wat hul goedere verkoop, is daar stalletjiehouers van so ver as Swellendam.
“Ons het uitstallers wat sedert die begin nooit ’n mark gemis het nie. Baie van hulle beplan hul hele week om die mark. Buiten die finansiële kant van die saak het ’n organiese gemeenskap by die mark ontstaan.
“Die stalletjiehouers en hul gereelde kliënte het mekaar leer ken. Dit is die enigste straatmark van sy soort en die atmosfeer van die mark is ook eensoortig,” meen Stone.
Alles het egter Sondag 23 Julie tot ’n einde gekom.
“Wetstoepassingsbeamptes het opgedaag en gesê die mark moet toemaak en die stalletjiehouers moet huis toe,” vertel Breedt.
“Dit was ’n skok en baie intimiderend toe die vier patrolliemotors met beamptes op ons toesak. Ten spyte van ons verbasing is dit rustig hanteer en die mark is gestaak.”
Vir die afgelope vier maande het die Dorp Street Sunday Market-span gespook om die mark terug in die hoofstraat te kry.
’n Aansoek vir handel met ’n terrein-ontwikkelingsplan, foto’s wat wys daar is genoegsame toegang tot die sypaadjies en die vorige goedkeurings van wetstoepassers is onder meer by die munisipaliteit ingedien.
Verlede maand het hulle ’n brief ontvang wat sê hul aansoek is afgekeur.
Dié twee sê na vele onsuksesvolle pogings om verder met die munisipaliteit in gesprek te tree, het Breedt ’n video op die mark se sosialemediakanale oor die besluit geplaas. “Dit was regtig die laaste ding wat ons wou doen. Ons hoop is steeds om met die munisipaliteit ooreen te kom sodat die mark in Dorpstraat kan voortleef. Ná die uitspraak het ons verskeie vergaderings gehad, maar ons is gesê die uitspraak is finaal en die saak is afgehandel,” sê Breedt.
In hul uitspraak is die munisipaliteit se hoofredes vir die afkeur dat die huidige mark-gebied nie geskik is vir informele handel/markte nie; die gebied vir sulke bedrywe moet strategies en proaktief identifiseer word; en die munisipaliteit is besig om grond in die dorpsgebied te identifiseer vir ’n mark wat voetganger-vriendelik is, genoegsame parkering het en nie voetgangers se beweging beperk nie.
“Die Dorp Street Sunday Market was ’n klein, private inisiatief oor die afgelope jare wat plaaslike verkopers ’n intieme ruimte vir hul produkte en entrepreneur-gees gebied het – iets wat ons vier en ondersteun.
“Nietemin, wat as ’n klein, informele bymekaarkoms met ’n paar tafels buite gevestigde ondernemings begin het, het uitgebrei na ’n groot, formele mark wat op munisipale eiendom, sypaadjies en padreserwes bedryf word,” lui ’n verklaring van die munisipaliteit.
Die munisipaliteit voer aan hy kyk na meer geskikte ruimtes wat “plaaslike ondernemings en kreatiwiteit stimuleer”.
Voetganger-veiligheid, toegang vir bejaardes, gestremdes en mense in rolstoele, asook sakelui se teenkanting teen hul sakepersele wat vir die mark gebruik word, moet in ag geneem word.
Intussen het teenkanting teen die munisipaliteit se besluit uit vele orde gekom. In ’n skrywe aan die munisipaliteit sê Ronnie Donaldson, verbonde aan die Stellenbosch-erfenisstigting, die sluiting van die mark is betreurenswaardig.
“Om die straatmark te verskuif na ’n gekonsentreerde ruimte is sinvol uit ’n burokratiese oogpunt, maar dit is onlogies uit ’n oogpunt om ’n sense of place vir dié gedeelte van die dorp te skep. Dit sal die gevoel van plek en bedrywigheid wat die straatmark op ’n Sondag na Dorpstraat gebring het, tot ’n einde bring. Ander stede sluit juis sekere strate vir straatmarkte op Sondae. Dit is algemene praktyk in baie stede van ons grootte wêreldwyd,” sê Donaldson.
Die Stellenbosch-belangegroep het ook sy misnoeë uitgespreek en meen die munisipaliteit se besluit is kortsigtig.
’n Petisie om die Dorp Street Sunday Market te heropen, is van stapel gestuur. Intussen huisves Casa Cerveza ’n pop-up-geleentheid in dié straat waar ’n paar stalletjiehouers te vinde is.