Dosent laat speke sing vir geld vir studente

,

Dr. Marietjie Lutz, ‘n dosent van die Universiteit Stellenbosch (US), is terug op die geldinsamelingsaal, vir die Wheels of Opportunity-veldtog.


Een gesin. Tien fietsryers. Ses dae. Ses honderd kilometer.

Dr. Marietjie Lutz, ‘n dosent van die Universiteit Stellenbosch (US), is terug op die geldinsamelingsaal, en vanjaar beoog sy om minstens R100 000 met die Wheels of Opportunity-veldtog (WOOP25) in te samel om geld vir talentvolle maar minderbevoorregte wetenskapstudente te genereer.

Lutz en haar gesin het verlede jaar R75 000 vir die veldtog ingesamel – wat die aanvanklike teiken van R60 000 oortref het.

“Hierdie ongelooflike reaksie het die belangrikheid van ons saak beklemtoon en ons geïnspireer om die uitdaging weer aan te pak,” sê Lutz.

Nadat hulle vroeër vandeesmaand hul eerste Kaapstad-fietstoer op bergfietse voltooi het, berei die WOOP25-span – Lutz en haar man, Daniël, haar oudste seun, Ben (bedryfsingenieurstudent aan die US), haar tweede oudste seun, Jan (BCom bestuurswetenskappestudent aan die US), haar dogter, Isabel (‘n gr. 11-leerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof) en die jongste, Daniël (‘n gr. 8-leerder aan Paul Roos Gimnasium) – voor om weer op hul fietse van George na Kaapstad te ry.

Verlede jaar moes hulle temperature van meer as 40 °C en sterk wind te bowe kom, asook ‘n noue ontmoeting met ‘n oorywerige koedoe. Maar Lutz sê vanjaar is die span logisties en strategies beter voorberei.

Hulle begin Sondag 30 Maart trap.

“Ter voortbouing op verlede jaar se sukses, het ons ‘n paar opwindende veranderinge aan die 2025-rit aangebring. Die belangrikste is dat ons span van ses tot 10 ryers gegroei het, wat ‘n nog groter gesamentlike poging beteken om geld in te samel en groter bewustheid te skep.”

Lutz sê die ongelooflike sukses van verlede jaar en die belangrikheid daarvan om ‘n bewustheid te skep oor die finansiële stryd wat baie wetenskapstudente in die gesig staar, het haar laat besluit om die WOOP-geldinsamelingspoging voort te sit. “Hierdie studente het geweldige potensiaal, maar word dikwels deur finansiële beperkings teruggehou,” verduidelik sy.

“Deur vir WOOP te ry, hoop ons om hul behoefte aan ondersteuning te beklemtoon en om meer mense aan te moedig om in hul akademiese toekoms te belê. Deur WOOP ry ons nie net fiets nie; ons maak deure oop vir geleenthede vir studente wat ‘n kans verdien om hul volle potensiaal te bereik.”

• Om by te dra, besoek GivenGain en volg die span op Instagram: @woop_fundraiser.

You need to be Logged In to leave a comment.