Ilze Aäron stel baie belang in navorsing oor Dowe opvoeding en hoe om onderrigstyle vir Dowe leerders te verbeter.


Toe Ilze Aäron, ’n Dowe student van die Paarl, haar B Ed-graad (grondslagfase) by die Desember 2021-gradeplegtigheid ontvang, het sy die eerste student van die Universiteit Stellenbosch geword wat met behulp van Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) gestudeer het.

Aäron (24), wat ’n passie vir die onderwys het en beplan om by ’n skool vir Dowes skool te hou, beskryf haar prestasie as “ ’n droom wat waar geword het” en hoop dit sal ander Dowe mense inspireer om hul drome te verwesenlik. “Ek hoop dit laat mense besef dat Dowe mense enigiets kan bereik,” sê sy in ’n onderhoud.

vergunning vir vyf jaar

Aäron, wat die vergunning gehad het om die vier jaar lange graadkursus in vyf jaar te voltooi, het haar innige waardering aan die Universiteit se Eenheid vir Gestremdhede en die US Taalsentrum, wie se tolkdienste tolkwerk in SAGT insluit, betuig vir hul ondersteuning en bydrae tot haar prestasie.

“Hulle het twee SAGT-tolke en baie ander soorte ondersteuning aan my verskaf. Die tolke het elke klas saam met my bygewoon en my met alles wat ek nodig gehad het, gehelp.

“Ek sou heel voor in die klas (wat soms deur soveel as 200 studente bygewoon is) sit en die tolk sou voor my sit en waarneem wat die dosent in die lesing aanbied. Dit is nie maklik om twee mense (die dosent en die tolk) gelyktydig dop te hou nie. Selfs al kon ek ’n klein bietjie hoor en dus gedeeltelik volg wat die dosent sê, moes ek ook die tolk se gebare dophou. Ons het dan ná die klas seker gemaak dat ek al die werk verstaan en dat ek nie iets gemis het nie,” sê Aäron ter verduideliking van haar unieke ervaring van leer deur tolke.

“Ander kere het die Taalsentrum ’n kamera verskaf om die tolk op te neem, sodat ek die opname ná die klas kon kyk. Ek sou dan vrae voorberei wat ek die volgende dag, met behulp van die tolk, aan die dosent kon stel.

“Omdat dit ’n langdradige en moeilike proses was, het ons besluit om eerder ’n aantekenaar te gebruik. As een nie beskikbaar was nie, sou een tolk aantekeninge maak terwyl die ander een vir my tolk, aangesien ek as Dowe student nie gelyktydig die tolk kon dophou én aantekeninge kan maak nie. Andere kere het ek ’n afspraak met die dosent gemaak om die werk met behulp van die tolk te bespreek.”

Aäron sê sy het aan die begin gedink die ander studente wonder seker waarom sy altyd heel voor sit. “Maar die tolke was van die begin af daar om seker te maak ek voel ingesluit en dat ek toegang tot die lesings en leermateriaal het. Dit was gewis ’n groot aanpassing vir my om van ’n Dowe omgewing te beweeg na ’n wêreld waar almal kan hoor. Dit was so ’n groot seën om saam met die Taalsentrum se tolke, Marsanne Neethling en Gert Erasmus, te werk. Sonder hulle sou ek dit nie tot hier gemaak het nie.”

Aäron was eers vir ’n jaar in die Hoërskool Labori voordat sy in 2012 na die De la Bat-skool vir Dowes verskuif het. Sy het aanvanklik nie SAGT geken nie. “Ek moes vir die eerste drie maande in my nuwe skool ekstra klasse ná skool neem om SAGT te leer sodat ek met my medeleerders kon kommunikeer. “Gelukkig het ek dit gou onder die knie gekry.”

self ’n tolk

Sy het teen die einde van haar skoolloopbaan gehelp om as tolk tussen die onderwyser en ander leerders in die klas op te tree aangesien nie al die onderwysers vlot genoeg in SAGT was vir die ander om te verstaan nie.

Aäron het as ’n klein meisietjie altyd voorgegee om ’n onderwyser te wees wanneer sy en haar maatjies gespeel het. “My gesin sê ek wou nog altyd ’n onderwyser word.”

Ná matriek het sy as ’n onderwysassistent by die Dominikaanse Skool vir Dowes in Wittebome, Wynberg, gewerk waar sy baie oor onderwys vir Dowe leerders geleer het.

“Die De la Bat-skool het eendag uit die bloute met my in verbinding getree om te vra of ek daarin sou belangstel om by die US aansoek te doen. Ek was aanvanklik onseker, maar nadat ek daaroor nagedink het, het ek besef ek moet hierdie geleentheid aangryp. Ek het my aansoek ingedien. Ek het egter vir niemand van my aansoek vertel nie en het vir ’n paar maande nie eens my e-posse deeglik nagegaan nie. Toe vind ek eendag ’n ou, ongeleesde e-pos van die universiteit waarin hulle my gelukwens met my aanvaarding vir die B Ed-kursus in 2017. Dit was die beste oomblik in my lewe en hier is ek nou aan die einde van my studie.”

Vicki Fourie, ’n senior tolk by die Taalsentrum wat ’n sleutelrol in die baanbreker-intervensie gespeel het, sê dit was ’n baie opbouende ervaring om saam met Aäron te werk. “Ons sal baie graag in die toekoms dieselfde vir ander studente wil doen.

“Ons het baie goed saam met die Eenheid vir Gestremdhede en die fakulteit opvoedkunde gewerk. Die ondervinding het ons laat besef hoe groot die gaping werklik vir Dowe studente is. Ons het besef dat Dowe studente, afgesien van opvoedkundige tolkwerk, ook ondersteuning op ander gebiede benodig.

“Ons moet ’n omgewing by die universiteit skep sodat Dowe studente nie afgesonder is nie; waar hulle nie net aan die akademie nie, maar aan die hele universiteitservaring kan deelneem.”

Vicki sê die Taalsentrum se Tolkdiens sal graag die samewerking met die Eenheid vir Gestremdhede, asook fakulteite en steunpersoneel, wil voortsit om studente nie net in staat te stel om te gradueer nie, maar ook ’n multidimensionele studentelewe te ervaar.

Aäron stel baie belang in navorsing oor Dowe opvoeding en hoe om onderrigstyle vir Dowe leerders te verbeter. “Ek wil meer te wete kom oor wat dit van ’n Dowe verg om by verskillende omgewings aan te pas.”

toekomsplanne

Oor haar toekomsplanne sê Aäron sy hoop ook om, afgesien van skoolhou by ’n Dowe skool, ’n tutoriale diens te begin vir Dowe leerders wat sukkel met hul skoolwerk.

“Ek glo alle Dowe leerders het die reg om enigiets wat hulle wil, te leer, om hul drome na te strewe, om hul uitdagings te oorkom en om verskillende goed oor die lewe ‘daar buite’ te leer. Dit is belangrik om hulle aan die lewe buite die skoolomgewing bloot te stel en dat hulle sal verstaan wat dit alles beteken om op hul eie voete te staan. Wanneer hulle die lewe aanpak, sal hulle alles onthou wat hulle geleer het,” sê sy.

“My passie is om Dowe leerders te onderrig sodat hulle ’n opvoeding in hul eie taal van ’n ander Dowe kan ontvang. Ek wil graag ’n rolmodel vir hulle wees – ek wil hulle inspireer en verseker dat hulle weet hulle kan hul drome verwesenlik, ongeag wie of wat hulle is.

“Ek het besluit ek wil bo my omstandighede uitstyg en maak nie saak wat nie, ek sál verandering in my Dowe gemeenskap teweegbring.”

You need to be Logged In to leave a comment.