Klagtes oor krag kom na die Stellenbosch-munisipaliteit ten spyte daarvan dat hy nie noodwendig die kragverskaffer vir sekere buurte is nie.
Inwoners van dorpe soos Elsenburg, Jamestown, Jonkershoek, Joostenberg, Klapmuts, Koelpark, Kylemore, La Motte, Lanquedoc, Lynedoch, Muldersvlei, Raithby, Rozenmeer en Wemmershoek kan moontlik beter elektrisiteitstoevoer en instandhouding van dié infrastruktuur verwag nadat die Stellenbosch-munisipaliteit ’n petisie begin het om die instandhouding van Eskom se infrastruktuur in dié gebiede oor te neem.
Die petisie word gerig aan die minister van elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, en Eskom, wat regstreeks elektrisiteit aan dié gebiede verskaf, en vra instandhoudingswerk en bestuur van infrastruktuur moet onder die plaaslike regeringsowerheid val.
Die Demokratiese Alliansie (DA) meen die volume van kragonderbrekings, die erns van probleme en die gesloer met enige herstelwerk het hulle genoodsaak om die petisie op te stel.
Eikestadnuus verneem van verskeie inwoners dat kragonderbrekings in hul buurte dae lank kan voortduur met min tot geen reaksie van die nasionale kragverskaffer wanneer hulle navraag doen nie.
“Ons is baie desperaat en bang aangesien veiligheidstelsels ook af is en ons daaglikse inkomste weens die gebrek aan elektrisiteit [ook daaronder ly],” het ’n inwoner vroeër vanjaar gekla.
Dié inwoner, wat saam met twee ander gesinne op ’n kleinhoewe buite Stellenbosch woon, was drie dae lank sonder elektrisiteit en het slegs ’n verwysingsnommer van Eskom oor hul klagte ontvang.
Tussen dié drie gesinne het hulle elkeen ’n onderneming van hul perseel bestuur, wat tot stilstand moes kom. Diesel vir ’n kragopwekker moes ten duurste aangeskaf word om onder meer die motor-elektries-onderneming aan die gang te hou.
Ten spyte van noodkrete aan die Stellenbosch-munisipaliteit was daar geen konkrete antwoorde nie. Die nasionale kragverskaffer sou die herstelwerk doen.
Die kragtoevoer is ’n dag later eers herstel.
Die DA poog nou om die elektriese dienste van Eskom oor te neem “om betroubare dienste vir alle inwoners te verseker en ’n einde te bring aan lang onderbrekings en swak reaksietye wat hierdie gemeenskappe te lank teister”, lui die petisie.
In 2020 is ’n soortgelyke petisie opgestel en die kragtoevoer en die instandhouding van die straatligte in Jamestown en Mountain View van Eskom is aan die Stellenbosch-munisipaliteit oorhandig.
Die munisipaliteit streef om uiteindelik alle toevoer van Eskom na die munisipaliteit te verskuif.