Waterverbruik bly steeds ’n groot probleem op Stellenbosch.
Vandeesweek se aankondiging dat daar nog net genoeg water vir 100 dae is, behoort enigiemand wat nog nie veel erg aan waterbeperkings het nie, te laat regop sit. Dit is drie maande. Dan is dit op.
En as dit op is, kan jy nie was nie, nie bad nie, die tande borsel nie. Om nie eers te praat van swem of tuin natmaak nie. Dit is op. Soos die nou reeds berugte aanhaling: “finish en klaar”.
Wat gebeur dan as die water op is, as die damvlakke so laag daal dat water nie meer vir huishoudelik gebruik uit die opgaardamme verkry kan word nie?
Het die plaaslike owerhede, op provinsiale en munisipale vlak, al noodplanne in plek om die werklikhede van so ’n waterramp aan te spreek?
Net een ding kan die situasie met die kritiese lae damvlakke omkeer – en dit is dat dit moet reën, sommer baie ook en gou.
Intussen is elkeen verplig om streng by die waterbeperkings te hou. Waterverbruik moet deur ’n ieder en elk net tot die noodsaaklikste beperk word.
En elke inwoner van Stellenbosch is onderhewig aan daardie verpligting en dis elkeen se verantwoordelikheid.