Stellenbossers moet gereed maak vir ‘n dag van samekoms en oefening met die eerste Fynbos5Miler wat op Saterdag 13 September in Wyk 7 aangebied sal word.
Volgens raadslid Annemarie Ferns het die idee vir die dag van hardloop en pret van die wykskomitee gekom. Inwoners was op soek na ‘n manier om weer met mekaar te gesels en te kuier, en om ‘n gevoel van gemeenskap aan te wakker.
Raymond Loftie-Eaton se voorstel was dat inwoners hul tekkies aantrek om deur die buurt te stap en vir diegene wat meer van ‘n uitdaging soek is die 5 Miler-wedloop ingestel. Die wedloop begin om 08:00 by die Hoërskool Stellenbosch en Stellenbossers van alle wyke word genooi om die 5 km-pretloop aan te pak, of die 8 km-wedloop kaf te draf.
Die langer roete sal deur die buurt en die Botmaskop-groenstrook loop. Atlete sal ook die kans kry om met ‘n paar Suid-Afrikaans bekendes skouers te skuur met die Stellenbossers Elana Meyer en Zola Budd wat ook die Fynbos5Miler sal aanpak.
“Ons hoop is dat die geleentheid ná vanjaar ‘n Stellenbosch-instelling sal word en jaarliks net groter en beter word. Benewens die oefening wat inwoners inkry wil ons ‘n ruimte skep waar bure met mekaar kan gesels, kompeteer in potjiekos-kompetisies en al die uitdagings wat ons daagliks ervaar vir ‘n wyle eenkant toe stoot,” verduidelik Loftie-Eaton, administrateur van Wyk 7.
Drawwers en stappers van enige ouderdom is welkom om aan die 5 km-pretloop deel te neem, selfs al is hulle in ‘n stootwaentjie. Atlete wat die myl wil aanpak moet minstens 13 jaar oud wees. Inskrywings moet aanlyn voor Sondag 31 Augustus gedoen word. Inskrywings vir die pretloop beloop R90 en R120 vir die langer roete. Die tyd van geregistreerde atlete se wedloop sal geneem word en medaljes sal uitgedeel word. Vele pryse is ook op die dag op die spel.
• Vir meer en om te registreer vir die eerste Fynbos5Miler besoek https://secure.onreg.com/onreg2/front/step1.php?id=7194 of skandeer die QR-kode.




You must be logged in to post a comment.