Ontvlug die rompslomp van jou bestaan. Moenie ‘n sofapokkel of inkoejawel wees nie. Kom draf, kom stap, kom vier Afrikaans met die Toyota Stellenbosch Woordfees se opwindende Velddraf met woorde.
Op Sondag 12 Oktober word die woord, fees en gees met die gewilde pretdraf gevier. Dis ‘n unieke viering van Afrikaans in beweging.
Hier draf of stap deelnemers nie met ‘n nommer nie, maar met ‘n woord. Elke deelnemer kry ‘n Afrikaanse tongtrippelterm as registrasienommer. Dalk is jy “holderstebolder”, “spoedvraat”, “agteros” of “slampamper”.
Dis ‘n viering van die bekkigheid van Afrikaans.
KIES JOU AFSTAND
Deelnemers kan kies om deel te neem aan die Vastrap (10 km) of die Japtrap (5,9 km) op die KleinBlouKlip-plaas, net bokant Paradyskloof in Stellenbosch, met pragtige uitsigte van die Helderberg, Tafelberg, Simonsberg en Stellenboschberg.
Die Velddraf is vir die pret en plesier en vir die taal, so daar sal geen amptelike tye geneem word nie. Daar is wel ‘n prysuitdeling met podiumpryse vir die eerste drie deelnemers (mans en vroue) asook die oudste en jongste deelnemer.
Al maak jy teen ‘n slakkepas klaar, kan jy dalk iets wen in die gelukstrekkings en elke deelnemer ontvang ‘n spekboompie as medalje.
Laat die woorde soos klippies in jou mond rondrol en dink wat vir jou die mooiste en lekkerste woord in Afrikaans is. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) gaan by die Velddraf wees as jy belangstel om jou gunstelingwoord te borg.
BEPERKTE INSKRYWINGS
Wees ‘n rakker, ‘n vasbyter en kom bokappel tussen die wingerde deur. Jy en jou konfraters kan te voet kom polmesarie hou. Of soos jy dalk sou sê: Bring jou pelle, huppel deur die lande en kom hou partytjie op die plaas.
Besoek Quicket vir vooraf-inskrywings. Aktiwiteite op die dag begin om 07:00.
Die 10 km-Vastrap begin om 08:00 en die inskrywingsfooi is R150. Die 5,9 km-Japtrap begin om 08:15 en die koste is R100 per persoon.
Inskrywings op die dag is beskikbaar teen ‘n ekstra adminfooi van R50. Daar is slegs plek vir 500 drawwers en geen inskrywings sal op die dag beskikbaar wees indien dit aanlyn uitverkoop is nie.
Alle pryse word deur EasyEquities geborg. Wenners ontvang beleggingsgeld om in ‘n EasyEquities-rekening te belê. Monarch Coffee Cartel sal van 07:00 af regstaan met koffie en happies. Parkering is by die Vriesenhof-wynlandgoed beskikbaar.
‘n Pendeldiens ry tussen Vriesenhof en die KleinBlou-Klip-plaas.
Besoek www.woordfees.co.za vir nog inligting.


