Wyle Harlene Meyer (49).


Drie verdagtes is teen Donderdag (27 Junie) in hegtenis geneem ná die moord van Harlene Meyer van Cloetesville.

Harlene (49) is Woensdagoggend (26 Junie) afgemaai toe sy en twee kollegas van die Welgevonden-landgoed op pad werk toe was. Dié ma van drie het die oggend vinnig na die winkel in Pinestraat geloop toe ’n groep mans in die straat aangeloop gekom het. Volgens inligting het nog ’n groep mans, met balaklavas aan, vanuit die ander rigting gestap toe die verdagtes op mekaar losgebrand het.

Harlene, die suster van die voormalige Protea-krieketspeler Roger Telemachus, het in die straat neergeval en haar kollegas het aanvanklik net gedink sy het geval. Sy is egter in die kop en rug getref en is later op die toneel dood verklaar. “Iets drasties moet gedoen word oor die misdaad in Cloetesville. My vrou was ’n saggeaarde mense en ’n goeie ma en vrou. Sy het nie in duur winkels geglo nie en was ’n nederige mens. Al die bure was ook lief vir haar,” vertel Lionel Meyer, Helene se man, met wie sy al twee dekades getroud is.

Die paartjie is die ouers van Jordan (18), Liam (15) en Ethan (14).

Die buurt loop byna daagliks onder misdaad deur en gemeenskapslede sê hulle is selfs te bang om by die bure te gaan kuier. Hoewel die buurt op die oomblik stil is en die Stellenbosch-munisipaliteit se RG12 MK2- veeldoelige voertuig die strate patrolleer, meen die gemeenskap ’n langtermynoplossing vir misdaad moet gevind word.

Die Demokratiese Alliansie (DA) in Stellenbosch het intussen gesê hulle het ná Harlene se dood, as ’n onskuldige slagoffer, bystand aan die plaaslike polisiekantoor gegee. Een verdagte is Woensdag in hegtenis geneem en nog twee die volgende dag.

Dr. Leon Schreiber van die DA het in ’n verklaring gesê hy sal ’n beroep op die nasionale polisiekommissaris, generaal Fannie Masemola, doen om meer hulpbronne in Cloetesville te ontplooi.

Volgens die plaaslike buurtwag doen hulle patrollies soggens voor skool, in die middae wanneer skole verdaag en ook saans. Gebiede soos Pinestraat is deel van die buurtwag se brand-gebied en die vrywilligers poog om veral in dié gebiede sigbaar te wees.

“Laat hulle almal na ’n stuk veld gaan en mekaar liewer doodskiet. Die gemeenskap is geskok en woedend. Ons kinders kan nie buite speel nie. Dit is nou stil, dis altyd so, maar in twee of drie dae gaan hulle net weer terug na hulle bakleiery,” meen ’n familielid van Harlene.

Harlene se ma, Ester Telemachus (71), sê sy is dankbaar sy was geseën met “ ’n wonderlik kind”. “Ja ons huil en die verlange is groot, maar ons sal haar onthou soos sy was. Sy was net Harlene. Ek kan nie meer huil nie,” vertel Telemachus.

Die verdagtes vir Harlene se moord sal na verwagting vandag (Vrydag 28 Junie) in die Stellenbosch-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.