Van links is Jardine Jappie (Laerskool Rietenbosch-hoof), Andrigo, sy ma, Soné Frans, Ruzaiq Patel (onderwyser en afrigter) en Irvin van Kerwel (adjunkhoof).


Enigeen wat die 12-jarige Andrigo Frans ken, weet sy liefde vir krieket ken geen perke nie. Boonop het Andrigo nou die kans om sy vernuf in Dubai ten toon te stel.

Dié seun van Cloetesville kry sy krieket-talent van beide sy ouers. Volgens sy ma, Soné, is sy onlangse opname in die Wes-Kaapse o.14-skolespan ’n blye geleentheid.

Andrigo was deel van die groep spelers wat tussen Saterdag 11 en Vrydag 17 Januarie in Paarl krieket gespeel het, vanwaar die span gekies is.

Nou sal hy en sy spanmaats, onder die leiding van Shafiek Jacobs, tydens die Junie-skoolvakansie na die buiteland reis om teen spanne daar te speel sowel as om besienswaardighede te besoek.

“In baie gevalle is daar ’n daadwerklike verandering in die kinders. Nie almal kry die geleentheid om die wêreld te sien en met internasionaal bekendes skouers te skuur nie. Hulle het die geleentheid om lewenslange verhoudings te bou,” vertel Jacobs, wat vir langer as ’n dekade krieket-toere reël.

Soné, self ’n snelbouler in haar skooldae, sê sy wil haar seun ’n geleentheid bied wat sy nooit gehad het nie.

Andrigo se liefde is van kindsbeen af ook deur sy pa, Andre Casper, aangewakker toe dié twee met ’n krieketbal en kolf in die hand na die parkie gegaan het. Sy pa is byna vyf jaar gelede weens Covid-19 oorlede.

Krieket is dus ook om sy pa trots te maak deur alles te gee in dié sport wat beide van hulle so verskriklik liefhet.

Volgens sy skool-krieketafrigter, Ruzaiq Patel, word Andrigo as ’n vooruitstrewende draaibouler en ’n goeie regterhandse kolwer beskou. “Hy is lief vir gekskeer saam met sy vriende en familie, maar weet ook wanneer dit tyd is om ernstig te wees. Hy geniet dit om nuwe mense te ontmoet – veral krieketmaats – en toon ’n groot belangstelling in ander se welstand. Andrigo beskou ’n gesonde leefstyl as uiters belangrik en strewe dus om die gesondste leefstyl moontlik te leef,” vertel Patel.

Andrigo het in 2019 vir die o.7-minikrieketspan gespeel. In 2021 het hy by die Stellenbosch-krieketklub aangesluit en daarna was daar g’n keer aan hom nie. Hy is verskeie kere as speler én kolwer van die jaar aangewys.

Só lief vir krieket is dié Laerskool Rietenbosch-leerder dat wanneer ’n krieket-wedstryd aan is, moet die televisie op dié wedstryd ingeskakel word.

“ ‘Ouma, druk oor asseblief’, moet ek gereeld hoor,” vertel Valerie Frans.

Ouma Frans sê dit sal opoffering verg om die meer as R44 000 vir die toer in te samel, maar almal sal hul deel doen om hom daar te kry. Sy sit self elke maand soveel as moontlik weg om met die onkoste te help.

Planne word nou beraam om die duisende in te samel, maar borge word genooi om Andrigo se droom te help bewaarheid.

“Krieket gee hom soveel meer as net sport. Hy het ’n kalmte en het gewis geleer om ’n roetine te skep en om stiptelik te wees. Hy het soveel meer geduld,” vertel Soné.

Andrigo se plan is om eendag die groen en goud soos sy gunstelingspeler, Aiden Markram, te dra en universiteit toe te gaan vir ’n kwalifikasie in sportakademie.

  • Kontak Jacobs by 083 490 9362 om ’n bydrae te lewer en Andrigo se toer moontlik te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.