Asof die voortslepende verandering van variante van die koronavirus nie genoeg is nie, dink Eskom dit is regverdig om die elektrisiteitstariewe met 20,5% te verhoog.
’n Mens kan nie help om te wonder of die topbestuur, en wie ook al vir hierdie besluit verantwoordelik is, vir krag betaal en of hulle van alternatiewe kragopwekking gebruik maak nie.
Hoe is dit normaal om te dink mense gaan hiermee gelukkig wees?
Wel, ons is bly dat die burgemeester haar stem dik gemaak en gesê het genoeg is genoeg.
Ons mense kan nie hierdie pryse bekostig nie.
Talle sukkel reeds met die huidige elektrisiteitstariewe en nou verwag Eskom mense moet tussen kos en krag ook kies.
Menige ouer moes weens werkloosheid en die moeilike ekonomiese toestande ook vir duur skryfbehoeftes en skoene betaal en asof dit nie genoeg is nie, wil Eskom nog hoë kragpryse ook op hul lysies sit.
Gelukkig kan ’n paar ouers in Longlands, Cloetesville, Khayamandi, Pniël, Idasvallei en Kylemore ’n slaak van verligting gee danksy liefdadigheidswerk wat organisasies en ondernemings in Stellenbosch doen om dié wat minderbevoorreg is deurlopend te help.