Stellenbosch is bekend vir sy wyn, maar deesdae kan die dorp ook pronk as die tuiste van Suid-Afrika se eerste granaatwyn, Eau de Vie.
Die “Eau de Vie” of “Spiritus Le Grenade”, ’n produk van Pure Pom, is onlangs by Maria’s Manor in Stellenbosch bekend gestel. Gaste is bederf met ligte verversings, maar ook ’n hele paar Le Grenade-skemerkelkies.
Elrita Venter, stigter van Pure Pom, vertel dat die droom al tien jaar gelede begin het.
“Ons het omtrent so tien jaar terug begin om granate te plant, maar daar het baie werk ingegaan, soos om eers die grond daarvoor gereed te kry,” vertel Venter.
Volgens haar word die granate op die plaas Bovenvlei langs die Bergrivier gekweek.
Dit is tans die grootste granaatplaas in Suid-Afrika en was voorheen slegs ’n groenteplaas.
Venter vertel dat die idee van die granaatplaas ontstaan het omdat ’n gaping in die mark vir hierdie produk ontstaan het.
“Die plaaslike mark is baie klein en daar was dus ’n gaping in die mark omdat granate baie meer gewild geword het aangesien dit baie gesond is.
“Ons het besef hier is baie min kompetisie in die Suidelike Halfrond en het dus granate begin plant,” het Venter gesê.
Pure Pom het toe drie jaar ná die aanplanting begin om van hul granate uit te voer, maar volgens Venter het hulle besef dat hulle nie al hulle granate kan uitvoer nie.
“Die gradering van die gehalte van die vrug is baie hoog. Daar mag amper nie eens ’n ligte skrapie aan die vrug wees nie. Dus is daar natuurlik vrugte hier en daar met ’n skrapie, effense sonbrand of krakies as gevolg van klimaat, maar ons kan dit nie uitvoer nie.”
Volgens Venter het hulle besluit om dié granate te gebruik om suiwer granaatsap daarvan te maak. Dit is hieruit wat die Le Grenade-spiritus gedistilleer word.
“Ons gebruik die skoon sap, dan doen ons ’n distillering daarmee.
“Daaruit kry ons suiwer alkohol van sowat 75%. Van daar af verdun ons dit met suiwer gedistilleerde water totdat ons by ’n alkoholpersentasie van 43 kom, wat baie algemeen vir ’n spiritus is.”
Venter sê die Eau de Vie is perfek as ’n lafenis ná ’n deftige ete met vriende en familie en sal “gewis bydra tot die plesier van die geleentheid”.
Die Le Grenade en Pure Pom se suiwer granaatsap is tans beskikbaar by die Paul Roos Kwikspar in Stellenbosch en Pure Pom beoog om dit na ander gebiede in Suid-Afrika uit te brei.
Vir meer besonderhede besoek www.lagrenade.co.za