Die e’Bosch-erfenisprojek het Saterdag 3 Junie in samewerking met die Jannie Mouton-stigting en verskeie ander medewerkers en organisasies die opleiding vir die Junie-Julie-skoolvakansieprogram by De Laer afgeskop.
“Hierdie projek bou voort op die suksesvolle skoolvakansieprogram van 2022, waar 18 programme in 11 Stellenbosse dorpies aangebied is,” het Carol Lakay van e’Bosch gesê.
Lakay sê verskeie opleidingsgeleenthede sal deur vakkundiges in primêre en sekondêre skoolaktiwiteite aan die koördineerders en kampioene gebied word.
Die natuur- en landbou-kampioene-opleiding, wat op 3 Junie plaasgevind het, is deur Riis Lemmer en Nathon Willow van Avodah Permaculture Collective aangebied. “Hulle het die leerders bemagtig met kennis oor volhoubare voedseltuine en eetbare koslandskappe, wat in hul gemeenskappe toegepas kan word. Tiazo Sirmongpong van Around the Campfire het die avontuur-opleiding aangebied, waar leerders tussen 6 en 18 jaardeelgeneem het. Hy het hulle oor avontuur-aktiwiteite met ’n veilige risiko touwys gemaak om ’n doeltreffende vakansieprogram te verseker.”
Musiek en beweging en geestelike groei sal Saterdag 10 Junie by Die Laer (Voortrekkergebou) in Simonsbergweg tussen 09:00 en 14:00 aangebied word.
Alle jeugwerkers, Sondagskoolonderwysers, naskoolsentrums, vroeë- kinderontwikkeling- en kreatiewetyd-onderwysers by skole is genooi om hieraan deel te neem.. Vir meer inligting oor die projek kan die projekleier, Wynanda Brinkhuis, by 061 595 4085 gekontak word via WhatsApp of deur haar by dieselfde nommer te bel. Inligting kan ook per e-pos aangevra word deur ’n boodskap aan wynanda@ebosch.co.za of carol@ebosch.co.za te stuur.