E’bosch beplan om weer talle erfenis-verwante en kulturele-aktiwiteite in 2024 aan te bied.
’n Spesiale teegeleentheid, waar dorpie-verteenwoordigers, skoolvakansieprogram-fasiliteerders en direkteure van e’Bosch die program-uitkomste vir die jaar bespreek het, is Saterdag 3 Februarie by die e’Bosch-kantoor in Dorpstraat, Stellenbosch gehou.
Een van die geleenthede wat deur die organisasie aangebied word, is die jaarlikse skoolkoorfees, die gewilde spoggeleentheid waar meer as 25 Stellenbosch-skole byeenkom, oefen en uiteindelik in September optree. Skole staan tou om aan die geleentheid, wat deur Remgro ondersteun word, deel te neem.
Die jaarlikse e’Bosch-erfenisfees sal soos oudergewoonte in September gevier word. Tydens Erfenismaand word toekennings, in samewerking met die Stellenbosch-burgemeester en Universiteit Stellenbosch se rektor, aan erfeniskampioene oorhandig.
Die jaarlikse erfenis-gedenklesing dan vind plaas en elkeen van die 15 dorpies bied ’n eiesoortige fees aan wat deur almal besoek kan word.
Tydens die winterskoolvakansie is daar ook geleentheid vir laer- en hoërskoolleerders om deel te neem aan ’n opwindende skoolvakansieprogram. Dié program loop uiteindelik uit op ’n saamtrek by ’n sportdag en ’n kultuursaamtrek.
Die e’Bosch-lidmaatskapstelsel bied vir individue wat dalk nie kan deelneem nie, die geleentheid om met slegs R100 per maand seker te maak dat die erfenis van Stellenbosch nie net gevier en oorgedra word nie, maar dat inwoners saam ’n nuwe erfenis bou. Daarmee saam is daar elke maand pryse wat gewen kan word met die komplimente van die sakelede van e’Bosch. Klein sakeondernemings wat die projek wil ondersteun, kan gerus aansluit om iemand se lewe verander.
Die e’Bosch Gemeenskapswaardes-groep het die afgelope twee jaar brûe gebou, nie net in Stellenbosch nie, maar al die pad tot in Willowvale in die Oos-Kaap. Die amaXhosa koninklike familie is nou ’n bekende gesig by die jaarlikse skoolkoorfees. Diegene wat wil deelneem, kan die vergaderings wat elke derde Donderdag van 18:30 tot 20:00 by die e’Bosch-kantoor gehou word, bywoon.
Gemeenskapleierskapsopleiding is een van die boustene van e’Bosch. In samewerking met die US, word gemeenskapsleiers toegerus met gereedskap om die nood en geleenthede in hulle dorpies vas te vat en die oplossings om hul gemeenskap te laat gedy.
Groot opgewondenheid heers vanjaar met die Olimpiese Spele met die waardes van vriendskap, respek en uitnemendheid, wat resoneer met die e’Bosch-aksies van ken mekaar, waardeer mekaar en respekteer mekaar. Tydens die afrigter-opleiding in Mei en November, sal die waardes vasgevang word in programme wat vir die kinders aangebied word.
Entrepreneurskap is ’n kultuur-tradisie wat e’Bosch vier en pro-aktief aanmoedig. Die groot projek vir die jaar is om jou eie groente te kan kweek, al het jy nie grond nie. ’n Hidroponika-kursus word aangebied en boustelle word beskikbaar gestel.
Die monument van voorneme is ’n baken waarna e’Bosch streef. Die organisasie is in 2011 gestig met die doel om ’n monument daar te stel wat almal herinner aan hoe die Stellenbosch lyk wat inwoners graag teen 2040 wil hê. Die projekleier, prof. Matilda Burden, stem saam dat mense se vertroue-weefsel sover ontwikkel is dat e’Bosch hierdie projek met vertroue kan aanpak.
Dorpies wat vanjaar wil deelneem, kan die e-Bosch-kantoor by 061 595 4085 bel of ’n e-pos na members.ebosch@gmail.com stuur.