Bo is die agt ontvangers van die e’Bosch-eretoekennings by e’Bosch-, US- en munisipale ampsdraers. Van links is Anthony Penderis (e’Bosch), Daniel Thomae (verandering deur sokker), Anton Dale Simons (Jamestown-erfenis, tegnologie) prof. Nico Koopman (US vise-rektor: sosiale impak, transformasie en personeel), Lwando Nkamiza (Stellenbosch-munisipaliteit), Elsabé Retief (direkteur, e’Bosch), dr. Sias Mostert (e’Bosch-direksievoorsitter) en Paul Kambuhle (Loxion Foundation). Voor van links is prof. Johan en Louwina de Villiers (Libertaskoor), Janine Myburgh (Pniël-erfenis), Mvelele Ngamtini (Imvuselelo Choir), Carol Lakay (e’Bosch-direkteur, tydskrif-uitgewer en e’Bosch-bestuurder) en Zimasa Liah Faku (Lokxion Foundation).Foto:


Dit is ’n voorreg om aan mense erkenning te gee vir die volhoubare bydraes wat hulle aan die gemeenskap lewer.

Om hierdie rede het die e’Bosch-erfenisprojek, in samewerking met die Stellenbosch-munisipaliteit en Universiteit Stellenbosch, Woensdag 21 September agt mense wat vanuit e’Bosch se 14 dorpies (woonbuurte) benoem is, vereer.

Hulle is vereer vir die bydraes wat hulle lewer tot die bestaande kulturele erfenis in hul eie gemeenskap en hul pogings om ’n nuwe, oorkoepelende erfenis, wat mense saambind en versoen, te bou.

By dié geleentheid wat in die US se museum gehou is, het prof. Nico Koopman, vise-rektor: sosiale impak, transformasie en personeel en verteenwoordiger van die US, gesê die toekennings is van groot belang omdat hulle die uiteenlopende talente en bydraes vier wat hierdie dorp lewendig en dinamies maak en “as bewys dien van die gees van uitnemendheid en gemeenskapsbetrokkenheid wat Stellenbosch definieer”.

Volgens die raadslid Lwando Nkamize van die Stellenbosch-munisipaliteit is ons erfenis ’n lewende entiteit, wat gedurig ontwikkel en aanpas by huidige en toekomstige uitdagings. “Ons gesamentlike verantwoordelikheid is om te verseker toekomstige geslagte sal ’n erfenis oorneem wat ryk en dinamies is soos dít wat ons tans koester.”

’n e’Bosch-eretoekenning is aan Anton Dale Simons van Jamestown oorhandig vir sy bydrae tot die erfenis van Jamestown en sy maatskappy, Mido Technologies, wat leerders as digitale burgers oplei.

Carol Lakay is beloon vir haar Stellenbosch-tydskrif wat mense die geleentheid bied om hul stemme te laat hoor en ook vir haar onvermoeide ywer waarmee sy e’Bosch se projekte bestuur.

Daniel Thomae en sy training4changeS is vereer vir hul betrokkenheid by die sokkerkultuur, wat ’n katalisator vir verandering in verskeie gemeenskappe en dorpe is.

Janine Myburgh is vir haar betrokkenheid by die bewaring en uitleef van die kulturele erfenis van Pniël vereer. As trustee en voorsitter van die Pniël Erfenis- en Kulturele Trust bestuur sy die plaaslike museum, die Adam Small- literêre fees en die herdenking van die vrystelling van die slawe elke 1 Desember.

Johann en Louwina de Villiers het die wêreldbekende Libertaskoor onder beskerming van die Vroue van Suid-Afrika in 1989 gestig om versoening en diversiteit te huldig en samewerking tussen die onderskeie kulturele gemeenskappe in Suid-Afrika deur koormusiek te bewerkstellig. Louwina het hierdie koor langer as 30 jaar bestuur, wat uitgebreide konserttoere in Europa en die VSA onderneem het.

Nog ’n ontvanger was Lokxion Connection, ’n organisasie in Khayamandi, wat die kultuur van sokker onder die jeug aanmoedig met die KACF Cup, ’n toernooi vir o.11’s. Lokxion hou ook ’n digkunsfees, Celebrating Khayamandi, en Conversation in Poetry, ’n digkunsreeks in samewerking met die US-museum.

Mvelele Ngamtini is erken vir die stig van sy eie koor, Imvuselelo Art Development Organisation Choir, ’n organisasie sonder winsbejag en wat ’n sangkultuur in Khayamandi aanmoedig en ’n veilige hawe vir die jeug bied.

You need to be Logged In to leave a comment.