Edwill van der Merwe en sy vrou, Nadine, nadat die Springbokke Wallis 41-13 geklop het.


’n Gekanselleerde vlug en ’n troue kon nie die blydskap en opwinding in Kylemore keer toe Edwill van der Merwe Saterdag sy buiging as Springbok gemaak het nie.

Dié Kylemore-“kind” se tuisdorp is meegevoer deur Edwill (28) se sukses toe hy Saterdag in die Groen-en- Goud in die Twickenham-stadion uitgedraf het om Wallis te takel.

Die regtervleuel het die titel as speler van die wedstryd verower danksy ’n solo-drie en ’n puik vertoning.

Tuis was sy ma, Charledine, aanvanklik hartseer omdat sy nie haar seun se eerste internasionale wedstryd kon bywoon nie.

Charledine het Vrydag eers haar visum ontvang om die wedstryd in Engeland te gaan bywoon, maar haar vlug is Vrydagaand laat gekanselleer. Nietemin het sy en die res van haar familie seker gemaak hulle is om 15:00 voor die kassie om na Edwill se debuutwedstryd te kyk – dit ten spyte van Devanté Petersen en Enrico Fortuin se troue, wat op die dag plaasgevind het. Devanté, Charledine se jongste niggie, en Edwill is veral na aan mekaar en sy het ingestem om die verloop van die troudagprogram aan te skuif om seker te maak almal is byeen vir die wedstryd.

Deftig getooi vir die troue het die familie saam na die Springbokke se wedstryd op ’n groot skerm gekyk.

“Ons is baie, baie dankbaar vir Edwill se geleentheid en baie trots. Ons is ’n bietjie oorweldig met al die boodskappe en dankbaar vir die ondersteuning van wêreldwyd, boodskappe en e-posse. Dit maak ’n mens se hart net so bly dat daar so baie mense is wat hom ondersteun en hom dra en bid,” verduidelik Charledine.

Sy pa, Edward, het die oud-Paul Roos-leerder se junior Springbok-baadjie vir die geleentheid aangetrek en almal – van neefs en niggies tot Edwill se oumagrootjie – was op hul voete vir Edwill se vertoning.

In aanloop tot die wedstryd het die gemeenskap en almal van Edwill se alma mater tot die Stellenbosch-munisipaliteit hom sterkte toegewens vir die geleentheid. “Dit is ’n absolute eer en ’n merkwaardige prestasie wat jou toewyding en harde werk ten toon stel. Ons by P.C. Petersen Primêr is ongelooflik trots om nog ’n Kylemore-seun te sien wat gekies is om die Groen-en-Goud-span te verteenwoordig,” het Edwill se oud-laerskool op sy Facebookblad geskryf.

Edwill en die res van die Bokke het uiteindelik 41-13 teen Wallis geseëvier.

Van der Merwe se ma Charledine en ouma Doreen Williams kon nie hul opgewondenheid blydskap keer nie.

Gaste van Devanté Petersen en Enrico Fortuin se troue kyk hoe Edwill van der Merwe sy debuut vir die Springbokke maak.

You need to be Logged In to leave a comment.