’n Skielike kragonderbreking het vandeesweek talle inwoners laat dink beurtkrag het weer aangebreek, maar helaas – dit was egter net ’n eekhoring wat in die kragstasie beland het.

Stuart Grobbelaar van die Stellenbosch-munisipaliteit het die voorval bevestig en gesê onvoorsiene kragonderbrekings, wat gedeeltes van die middedorp en die universiteit geraak het, het skielik op 13 en 14 Februarie voorgekom.

“Die oorsaak van die onderbreking op 13 Februarie was weens ’n eekhoring wat sy weg na die Jan Marais-transformator gevind en ’n onderbreking veroorsaak het. Die oorsaak van die onderbreking op 14 Februarie was weens oorlading,” sê Grobbelaar.

Grobbelaar sê die tegniese personeel het onmiddellik aandag aan die onderbrekings gegee. “Onderbrekings weens onvoorsiene omstandighede kom egter van tyd tot tyd voor, soos in die geval met die eekhoring. Alle onderbrekings word ondersoek en herstelwerk word so gou as moontlik uitgevoer om die ongerief vir inwoners tot die minimum te beperk. Beide onderbrekings het ongeveer twee uur geduur voordat ons tegniese spanne toevoer kon herstel.”

Bedryfspanne van die munisipaliteit en die universiteit het die veiligheidstellings hersien sodat enige potensiële oorlading van die universiteit nie ander gebiede raak nie.

You need to be Logged In to leave a comment.