Die eerste olimpiade vir wiskundige geletterdheid is Dinsdag 16 Julie gehou.
Wiskundige geletterdheid is ’n praktiese vak wat leerders toerus met die nodige wiskundige vaardighede vir die alledaagse lewe.
’n Behoefte aan verryking en erkenning is onder leerders in wiskundige geletterdheid geïdentifiseer. Die doel van die olimpiade is om die waarde van hierdie vak te beklemtoon en ’n passie daarvoor by leerders te kweek.
Altesaam 250 entoesiastiese leerders van reg oor die Kaapse Wynland-distrik het elektronies aan die olimpiade by hul onderskeie skole deelgeneem en het gewys hulle werk ontsettend hard en verdien dieselfde geleenthede as in ander vakke.
Rinette Bruwer en Louise van Rensburg van Hoërskool Stellenbosch het die olimpiade onder leiding van Esta Harvie, ’n WKOD-vakadviseur, begin om leerders ’n geleentheid te gee om op streekvlak mee te ding. Die toppresteerders in die kompetisie was Chane Crocker (1ste) en Nika Coetzee (2de), albei van die Hoër Meisieskool Bloemhof, en Francois Davy (gesamentlik tweede) van Hoërskool Stellenbosch.